Doll se Lagpoppie

Deur Amanda van België

 

Tydelike verstandsverbystering. Soos sonsverduistering. Dis wat hulle dit noem.

Dis nie die tyd om rook, koffie of sjokolade op te gee nie. In dié tyd raak die drang selfs groot om by die plaaslike drafklub aan te sluit al was jy nog altyd oortuig daarvan dat draf stadige kastyding is! Jy kan sommer lekker roekeloos raak en jou hare groen kleur omdat dit oornag grys word. Groen? Vir groei, hoop…

Dit gebeur ‘n paar keer in ‘n mens se lewe, dié verstandsverbystering. (Ek dink ek’s nou weer by een met al die gloede en dinge, selfs al is dit sub-zero temerature!) Die ergste een vir my was toe Boet die tienerjare getref het in Anderman se land. (Ek draf nou nog!) Die son was vir lank weg. Dit was ernstige dae. My dik mond en ewe dik oë het soos ‘n vars behandeling Botox gelyk. ‘n Wyse omie het op ‘n dag gesê al die skermunkeltjies draai op die ou end tog goed uit. Tot vandag toe is ek oortuig daarvan dat ons dalk die een persent van die statistiek wat nie goed uitdraai nie, getref het. Want ons is nog nie daar nie.

Ek dink ek het te laat die waarde van die geel lagpoppie ontdek.

Sy (Dolla, die stadige een in die gesin) het hom by Sarah van Gibraltar gekry. “I just couldn’t resist buying her one, because she always laughs! ”

Skeelogies van die lag en vreeslike wit tande – amper ‘n grynslag van lekkerlag is dié geel lagpoppie.

Wanneer jy op die magie druk, lag hy – ‘n histeriese lag so uit die poppiemaag wat eers vreemd op die oor is en dan herken word as ‘n lekkerlag. En dan lag jy saam.

Dolla is ook so – vreeslik gekomplisseerd om haar praat te verstaan, maar totaal ongekomplisseerd in haar menswees. Sy lag vir ons ernstige koddighede – wanneer ek my vinger in die deur vasknyp en hom skud om die pyn te verlig en rympies opsê; wanneer ek struikel en lug gryp om balans en waardigheid te behou; wanneer Pa tennisspeel om brommers af te maai; wanneer die verfpot omval en die gesmelte kaas ‘n draad uit haar mond hang.

As jy haar druk, lag sy.

Plaas ek méér gelag het oor die koddighede tydens dié spesifieke verstandsverbystering. Wanneer ons terugkyk, kan ons soos Dolla, die snaaks sien en lag… Soos die keer toe ek weer ‘gedrup’ het oor ‘n saak en Boet gereageer het met: “This is the voice mail of …… I am not listening right now. Please leave a message after the beep and I might get back to you.” Of toe ek met die hand gepraat het: “Speak to the hand cause the ears aint listening!” En toe hy speel met die gedagte om eendag na die twee oues en Dolla om te sien: “Ja, weer my geluk. Kry twee en een verniet!”

Hulle was op ‘n skooluitstappie Buurland toe. Vooraf was daar duidelike riglyne vir wat mag en wat nie mag nie. En raai wie ontmoet my eerste toe ek ewe bly die aand elfuur by die optelpunt is na die uitstappie? Juffrou. Ek word die volgende oggend nege uur by die skoolhoof verwag. ‘n Skielike maansverduistering. Ek het goed geweet hoe haar kantoor lyk – waar die plant gestaan het, wanneer haar kantoor nuut geverf is, wanneer die stapel papiere op haar tafel kleiner geword het, of haar lessenaar geskuif is. Ons was baie daar.

En Boet? So bly om my te sien met ‘n blink ring in die lip. Ek…was…nie…bly…nie.

“Hoe lyk dit Ma? Is dit mooi? Ek’t seker gemaak die plek was decent en skoon. Dit was nie sommer enige plek nie!”

Tja, ons het gesê ons sal praat oor dié tipe dinge wanneer hy 16 is. (Ook maar bietjie vir tyd gespeel. Duidelik het dit nie gewerk nie.) Ons was ‘n paar weke van 16 af.

Volgende oggend vroeg, met Pa se gereedskaptrommel en tang in die hand, het buurvrou ons bekyk en lekker gelag. Sy was jonk met baaaaie ringe en studs. Met die gesukkel het die lip geswel en my humeur verdik. Sy reaksie? “Wag, wag, ons moet eers ‘n foto neem!”

Dik lip later en ekskuusbriefie, is hy skool toe. Ek, later agterna.

Ringe en studs-buurvrou is die middag saam met hom die stad in na ‘n decent plek om die ring uit te haal.

In Anderman se land is lewe ‘n ernstige saak. Lag is stadig en swaar. Want, in die vreemde land is genoeg, maar dit weeg swaar. En ons het aangesteek. Afrika met min, was ver. Ons het vergeet van hulle lag, hulle lewe met min. Lewe was nié ‘n lagpoppie nie.

Toe ek gedruk is, het ek gespoeg, geblaas, geswets en menige dag hom amper verkoop soos Josef se broers gemaak het. Happy-pilletjies sou nie eers gehelp het nie. Maar die drafskoene het gehelp. Dikwels het ek God se katedraal ingehol waar die kalmte van die bos my omvou en die voëls rustig geantwoord het. Vriendinne het geluister, getroos, gepraat van hoop êrens voor in die pad.

Koning Salomo het geweet lag is gesond en gepraat van ‘n kragbron. As die humor verdwyn, kry mens seer. Ek weet. Ek het. Wanneer mense saam kan lag, is daar dikwels meer saampraat, meer aanraking, meer oogkontak.

Ag, eintlik al wat ek wil sê:

In daardie tydelike verstands-verbystering van die tienerjare, probeer die lag soek en raaksien. Dis daar. Dis ‘n quick fix. Of anders, fake it till you make it. Want nie almal van ons het voorbeeldige nakomelinge nie, al het jy áls reg gedoen. Kyk maar, ons Liewe Pa sin is ver van voorbeeldig af.

Daar is nog naskokke, maar ons het geleer om gouer te lag. Ek kan selfs daaroor skryf én lag.

Dus, LOL (laugh out loud).

LOL gereeld.

(Hierdie artikel het verskyn in Boekie 4, 2013 uitgawe van Ek en My Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie – SAVF.)