Tannie Han (Briesie)

4 Desember – † 9 Januarie 2013

Tannie Hannie was altyd daar – kort ronde lyf en die lekker lag.

Ek onthou nog die Hermansburgdae toe sy by die sentrale in Ahrens gewerk het. In die aande en naweke was dit pluimbal. Sy kon goed speel.

Oom Sampie het later deel geword van die familie. Die verloofring was ’n ster aan haar vinger. Ek en sus het ge-oe en ge-ah! Sy het mooi hande gehad. Hulle is getroud en het in ‘n woonstel in Mandini gaan woon. Ons het nog saam met Ma gaan kyk dat alles in die woonstel reg was vir hulle terugkeer van wittebrood af. Die mooi wit en rooi drie-laag-koek van die troue was swart! Oortrek van die miere – tipies Natal. Waaiers en water het die ding gedoen en toe hulle terugkom, was die koek weer wit.

Sy kon lekker koek bak – sulke hoë koeke met icing, nie versiering nie, icing. Nie te lank gelede nie het sy nog gesê sy sal vir ons ’n lekker koek bak met icing vir wanneer ons kom kuier.

O ja, ons het haar later geken as ‘Briesies’ want daar het fout gekom met die uitreiking van haar identiteitsdokument. Janse van Rensburg het sommer Briesies geword. En Briesie het dit gebly.

Sy het nie meisiekinders gehad om te bederf nie. Hangertjies, naellak, silwer juwelekissies en ander meisietierlantyntjies het my en sus op verjaarsdae en Kersfees bederf, of sommer net.

Dit was lekker toe hulle in dieselfde straat kom woon het. Menige dae het sy en Johan baklei-baklei die straat opgestap om te kom kuier. Sy het dan altyd laggenderwys gewens hy was al groot, uit die skool en in die army. Danie het bygekom en Ouma het by hulle kom woon. Ons wou Danie menige dag klein-klein nek omdraai want volgens ons het Ouma hom voorgetrek – hy’t met moord weggekom. Johan was ons favourite.

Dit was lekker om die telefoon in Mandini op te tel en die ‘sentrale’ te vra vir ’n nommer vriende toe. Briesie het vrolik gegroet en ons deurgeskakel. Sy het weer by die sentrale gewerk. In Mandini. Wanneer die groen Alcamino bakkie daar gestaan het, het ons geweet, sy werk weer.

Op ’n dag het die sentrale huilend gebel. Mandini wou nommers hê en sy was alleen. Skakelbordkabels het soos popcorn gespring. Ons – ek, ma en sus het kabels gaan terugdruk sodat sy kon, ‘nommer asseblief’.

Later jare het sy by SAPPI gewerk.

Sy en oom Sampie was altyd bly om ons te sien. Sy was saam met ons bly oor Stiaan en Kirsty se koms. Sy was bly oor Cara, Emiel en Ditter.

Sy was bly oor Jackie en Nadia en boeta. Sy het altyd oor hulle gepraat.

’n Sin vir humor, liefde vir ander en ’n mooi stem vir koorsing het sy gehad.

Hierdie vrou-van-vrede in die familie het hemel in haar hart gehad. Dit met ons gedeel. Soos Margaret Lee gesê het: ‘(Her suffering)… is so limited. It cannot cripple (her) love, shatter (her) hope, corrode (her) faith, eat away (her) peace, destroy (her) confidence, kill (her) friendship, shut out (her) memories, silence (her) courage, quench the Spirit or lessen the power of Jesus.’ Te midde van die swaarkry het sy gedoen wat Jesus gedoen het in Sy swaarkry, gelééf. Want sy het haar Vader geken – geweet waarheen om haar hart en oë te draai.

Die laaste telefoongesprek met haar kon ek hoor die spiere kramp, asem is kort en die bene wil nie meer nie. Sy was moeg. Ek het geweet sy is in die pylvak van haar wedloop…

En nou, nadat sy haar wedloop voltooi het, kry óns die belonging, haar nalatenskap: geloof, hoop, liefde, want daar is ‘n ander Koninkryk en sy het dit geweet.

Ons gaan haar oneindig baie mis!