oom sampie (samuel) janse van rensburg

† woensdag, 30 mei 2012

 

(in julie 2013 het ek my twee neefs weer vir die eerste keer in jare gesien. toe sien ek oom sampie.)

vandat ek maar kan onthou, was hy daar. het later familie geword toe hy met tannie hannie getroud is. en vir pa het hy ‘ou swaer’ geword. pa het vir hom werk by sappi in mandini gekry waar hy toe vir jare gewerk het. voor die troue het hy in die enkelkwartiere gewoon. hy en oom bill het dikwels kom kuier. sy hond, du preez het ook saam kom kuier – ‘n groot, wit fox terrier met ligte bruin kolle. êrens is nog ‘n foto van ons saam met du preez.

hy was ‘n groot man met donker hare en sproete op sy ewe groot hande. hy het ‘n sagte hart gehad en gehelp waar hy kon. blou en groen was vir hom dieselfde kleur want hy was kleurblind. tannie haan het elke dag se klere reggesit sodat hy tog net ‘n ewe paar kouse kon aanhê. dit was belangrik want hy het altyd kort broeke gedra met lang kouse tot onder die knieë. kan nie onthou dat hy langbroek gedra het nie, behalwe sy kerkpak.

hulle het amper-oor-die-straat van ons gewoon. ons het altyd vir die groot groen elcamino bakkie gewaai wanneer hulle êrens heen oppad was.

oom sampie en pa het baie dinge saam gedoen – vis gevang by die see, smiddae en naweke saam radios reggemaak vir ‘n winkel in die dorp. hulle het in ons buitekamer gewerk en menige dag het ons gehoor hoe hulle lag as daar geknoei word! sy lag was altyd herkenbaar. saterdae was perdespeeldag en so het ons begin kennis neem van die bekende jaarlikse ‘durban july’ wedren. en daar was ook die saam vleisbraai met die ewige bols brandewyn en coke. dan het hulle éérs gelag en geterg. oom sampie het altyd een of ander grap vertel, vir tannie haan temerig ‘ou vrou’ genoem en hulle familie, die kringgatte (waterbokke).

ek onthou hom soos hy was. alzheimers het van hom iemand anders gemaak.

in die twee groot manne, sy seuns, sien ons nog iets van hom.