christiaan van der walt (konki)

13 junie 1951 –  †9 november 2013

‘n groot nee!
‘n hou in die wind was die nuus.  vasgeloop in die allergrootsheid van ons God… maar ons weet,
hy is goed.

die lang, aantreklike man het op die gras gestaan – see se kant toe gekyk. rustig. altyd rustig. hy’t gevra of ons daar bly. en toe kom kyk waar ons gesin in een van die huisies gewoon het. geleef op bunkbeddens, uit tasse en lakens gehang om die vertrekkie in kamers te verdeel. ‘n glimlag op sy gesig. christiaan – volgeling van christus beteken sy naam. dit was in die beginjare van ywam in jeffreysbaai. die eiendom was op die rand van die plakkerskamp met kinders uit die buurt en honger rondloperhonde. sending.

konki en lollo, het almal hulle genoem. maar nee, dis christiaan en anlerie, het hulle gesê. en dan was daar nog die vier mooi meisiekinders. ‘n baie spesiale gesin. ons het by hulle gemeente aangesluit. kerk was in ‘n saaltjie op ‘n plaas tussen humansdorp en jeffreysbaai – tipies sending. onder hulle leierskap het ons nog meer verslaaf geraak aan die Vader en sy skepping – aanbidding, liefde vir mekaar, liefde vir die Woord, gasvryheid, hart vir die wêreld. ons het dit daar gesien en geproe.

christiaan was nie baie prakties met die hande nie, maar hy kon fondasie lê en stewige mure bou met sy insig in die Woord en passie vir die Vader en sy dinge. hy het fondasie gelê vir sy gesin, pad voorberei en rigting aangegee. belgië en tunisiëwinde het gekom, maar hulle het bly staan.

hulle lewe het gepraat – ’n vlam wat mense aangetrek het. ’n leier vir leiers was hy. rotsvaste vertroue in sy Vader. altyd positief al was daar moeilike tye want die soevereniteit van God het oorheers – God is in beheer en sal dit uitwerk. sy fokus was hart en siel die wil van die Vader – belgië; fransman se taal geleer; en tunisië; en bloemfontein. ‘n missie.

ons paaie het saamgeloop want ons harte was verbind. ons sal sy droeë sin vir humor mis, sy grappies. die bottel douwe egberts koffie maak ons onthou – sy liefde vir lekker koffie, ‘n stukkie biltong-bederf en die lekker warm pannekoeke op die boeremark in bloemfontein.

Vader en sy weë, sielsboeke, soos onder andere geskryf deur henri nouwen en philip yancey was dikwels op die tafel om oor te gesels. hy was lief vir lees. ‘n geesgenoot. gepraat oor saak-maakdinge. God erken in als – altyd gepraat van D.V. dit en D.V. dat. mode was onbelangrik. anlerie het gepraat oor die twee hemde, een broek en een paar skoene – baie maklik.

selfs in die praat is nou ‘n groot leemte. dis nou anlerie en nie meer christiaan en anlerie nie. ons getroue, kosbare vriend – ons broer. ons mis hom.

nou, met sy dood het hy die deur oopgedruk en oorgestap van die een na die ander – pynlik. maar dis soos sy lewe hier was – deure oopgedruk, al was dit hoe pynlik, die weg begin stap en rigting aangegee vir ander. sy roeping.

so stukkie christiaan sien ons terug in die meisiekinders. ‘n rykdom het hy vir hulle gelos – ‘n stewige fondasie, identiteit, rigting, lewe.

dankie christiaan vir jou lewe. jou stukkie hemel met ons gedeel, ons lewens verryk en vir ons bevestig hoe mooi ons God is.

ons Vader is goed.