Onderhoud met ‘n x-tiener

Anoniem

 

Ons het als gedoen wat goeie Christenouers veronderstel is om te doen:

opreg gebid voor, tydens en nog steeds en met tye ernstig gevas en boeke opgelees en by kenners aangeklop en geluister en kreatief gewees en ure gegee en energie ingesteek en gewoon dáár gewees. Ons lewens gegee.

En ons het hom in ons hart gesit en hy’s nog steeds daar.

Ons somme het gewerk: 1 + 1 = 2, totdat ons huis gemaak het in Anderman se land en hy was maar 13…1 + 1 = pynhoop-trane, verwarring, twyfel, geen antwoorde.

Vir hierdie volgeling was dit soos donker Saterdag na Goeie Vrydag.

Lofprys was blikkerig. Liefde ‘n woord wat gespel word. Die bekende Stem was vaag. Geen wonderwerke nie. Intimiteit met Hom was maar ‘n standvastige lojaliteit want eintlik was my God dood in die graf.

Moeder Teresa het in 1985 in haar dagboek geskryf:

My smile is a great cloak that hides a multitude of pains… [People] think that my faith, my hope and my love are overflowing, and that my intimacy with God and union with His will fills my heart. If only they knew.’¹

Ja, if only they knew.

Intussen het die jare aangestap en ons doen wat goeie Christenouers veronderstel is om te doen: leef in geloof en nie in wat ons sien nie.

En toe kom die onderhoud vir hierdie artikel.

Hy sit-lê in die gemakstoel, voete op die tafeltjie. Beker tee stoom. Hy wikkel onder die kombers om sy sit te kry. Dis winter. Buite is die sneeu wit.

Hy’s ‘n aantreklike jongman, sagte hart – kan lekker lag oor ‘n grap, sy sus se hare deurmekaar vryf, die hond verpes. Ons het hom in ons hart gesit en hy’s nog steeds daar.

Ek het geweet die onderhoud gaan moeilik wees…

Ons begin by die ‘carefree’ dae van als wat nuut was, eie kop volg, die adrenalienkoors en kontak met die gereg. Die belangrikheid van vriende, geld, ‘image’, ‘brand-klere’ en die belangrikste, lojaliteit aan die groep. Daar word nie ‘gerat’ nie, al kom jy namens hulle in die moeilikheid.

Die kake word geklem, oor die hare gevryf wanneer die moeilike dinge uitgehaal word soos die ewigdurende gespot oor sy andersgeit en om nie baie geld te hê nie. En daarmee saam die spanning tussen wat jy weet en wat jy sien en dis baie anders, wat jou ouers wil en wat jy wil en die wete dat God daar is teenoor óf daar ‘n God ís. Identiteitskrisis.

Hy swets en knak sy kneukels. Ek weet hy is nog kwaad. Kwaad vir ouers ‘wat ‘n God gevolg het wat nie bestaan nie. Hulle wil nie verantwoordelikheid vat nie. Hulle moes hulle kop gebruik het. As jy sê jy is lief vir jou kind, doen jy nie dít nie. Néé!’ Hy wil opspring. Ek paai.

Hy het weggedraai van God af, want dit was te beperkend en die ander kant het hom ‘ingesluk’.

Ek weet, ek het ook amper weggedraai.

Onverwerkte pyn van eensaamheid en verwerping het na ander geslaan om sy eie pyn weg te steek. Bevrediging was vir ‘n oomblik. Sigarette, poeiers, pille en drank moes die pyn verdrink. ‘Death metal’-musiek moes kalmeer.

Ek is dankbaar vir die een onderwyser wat streng en positief was. Vir haar het hy respek gehad. Hy onthou haar. Ek onthou haar. (Sy het nog gesê: “Hy sal wel weer op sy voetjies land.”)

Hy’s moeg en het hoofpyn. Ek ook.

Spyt? Ja, alles wat hy mense aangedoen het.

Raad aan onderwysers?

‘Kry ‘n ander job.’

‘Wees streng van die begin af.’

Raad aan ouers met moeilike tieners?

‘Bliks** hulle dood as jy jou hart wil beskerm!’ Ek moet lag.

‘Hulle moet maar hulle koppe stamp.’

Saam stap ons nog steeds die pad van genesing, vergifnis, herstel en weer-begin.

En ek?

Skuldgevoelens is daar nie meer nie. Pyn wel. Want hy stoei nog.

Swaarkry kom saam met ‘n kinderpakkie. En daarmee saam die Vader se teenwoordigheid in alle omstandighede.

Ons hét foute gemaak. Die Vader het geweet ons gaan baie foute maak. Was nie perfekte ouers nie, net goeie ouers. Selfs die Perfekte Vader het verlore kinders. As ek kan huil oor my kind, weet ek ‘n bietjie hoe God huil oor sy kinders.

Ons broodjie en vissies het ons gegee. Ons hoop nou op die vermenigvuldiging van wat die jongman nog nodig gaan hê.

Waardes en normes moes pynlik aangepas word. In die proses het my gees en denke verbreed.

En ons doen nog steeds soos goeie Christenouers veronderstel is om te doen:

bid totdat die bak vol is en kantel

gee tyd en aandag

hou hom steeds in ons harte

gee ons lewe

bou aan ‘n rykdom en ‘n erfenis.

N.S. Dis met sy goedkeuring dat die artikel geplaas mag word.
“Dankie kind dat jy my leer.”

 

1. 1. ‘Mother Teresa’s Diary Reveals Her Crisis of Faith’ deur Bruce Johnston
Telegraph.co.uk, 29 November 2002

 

(Hierdie artikel het verskyn in die Winter 2013 Jaargang 36 nr 2 uitgawe van Ek en My Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie – SAVF.)