net tien minute

skryf annerie toe vir my –

nie net wens nie
sit daai pen op papier
en dit sal kom
stippies
strepies
letters
gedagtedruppels
word woorde
vloei
sinne
in ‘n gedagtevlug
en voor jy weet
is wens onnodig
want, sien
jy dig!

skryf daai moeg uit jou uit
10 minute elke dag

en ek skryf terug –

daar’s dit weer
daai woorde
net tien minute elke dag, net tien minute elke… net tien minute…

êrens bly dit ’n inkblaps op my papier
kan dit nie uitvee nie, kan dit nie ignoreer nie
want sien,
my siel brand vuur
borrel en kolk en spat en wil-wil oorloop, lawa
lawa wat brand en voortstroom.

die kop skarrel
die gees sing
vir die pen op papier
maar ai
daar’s die ewige stryd ook weer
verskonings, mense, werk, urgent, important, tyd

en
tyd stap aan

en
ek skryf nie

en
ek crave

en
daar’s maerte in my siel.

en sy skryf terug –

spat spat
spartel spartel
spook spook
spoeg spoeg
stoom stoom

stroom!

lava

vloei
voort
vlug
vinniger
vlinder

vry!

lawe

siel
versadigd

dink jou dink
in ink

10 sielsnodige minute
soos daaglikse brood

lewe!