België is nie so Groot nie

Amanda

Ek sukkel om die lyne op die blinknatpad te sien en boonop is aandry nie vir my gemaklik nie – ek dink ek is seker half nagblind.

En so met die gesukkel om te sien, moet ek konsentreer om regs te hou en nie instink te volg en links te koes vir die aankomende ligte nie – ons is mos nou in Europa waar alles verkeerdom is – selfs die stuurwiel sit aan die verkeerde kant!

Die padtekens voor is ook leesbaar duidelik – die een wys diékant toe en sê, “Alle Rigtingen” en die ander een wys daaikant toe en sê, “Andere Rigtingen”. Nou wáárheen nou – net die Belge weet wat lê waar?! Ek kies toe sommer “Alle Rigtingen” net om te besef dit moes eintlik “Andere Rigtingen” gewees het. Wel, omdraai en ry sommer gou om die blok en probeer weer verstaan. Dié werk toe ook nou nie want die blok verdeel toe mooi in die helfte en neem my ’n ander windrigting in … Ek moet terug, al is dit agteruit, op my spoor tot waar ek verkeerd gegaan het! Miskien sou ’n kompas gehelp het want hier weet ek nie eers waar die son opkom óf ondergaan nie want dié is maar menige dag skrams met sy glimlag verby die wolke.

Wat is die straat se naam? Ons soek die klein, netjiese bordjies wat skaam-skaam iewers op ’n hoek van ’n gebou sit. En so tussen die Franse en Vlaamse straatname lê ook ’n geskiedenis van verskil … selfde plek maar heeltemal ander name. Voel soos oneindige loopgrawe se ry en ry op soek na name, maar dié is so skaars soos vrede in oorlogtyd.

Ek raak sommer opgevuur dat die twee “tiener-wyshede” my só kon ompraat om hulle êrens aan die buitewyke van die stad te gaan aflaai by ‘n jeugbyeenkoms. Weet nie of ek óóit weer huis gaan sien nie en Dolla agterin, sing ewe opgewonde oor dié uitstappie, haar enigste, duidelike wysie, “piepie-piepie”!

Eindelik daar aangekom, sê hulle toe, hulle sal sommer iemand vra om hulle weer huistoe te bring. En terwyl die ranke uit die klein motortjie uitryg, ’n laaste glimlaggende, bemoedigende groet: “Toemaar Ma, moenie worry nie, België is nie so groot nie!”


(Hierdie artikel het verskyn in die Winter 2007 uitgawe van Ek en my Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die SAVF)