Top 10

Amanda uit België

 

Ek het in die boek van Lisa Nola begin skryf:

Tuesday 17 May: Tired and Doll difficult as usual…

List pets you’ve had and their names: Blessie, a black and white Foxie, white spot on the head.

Die priester se present uit die “Sixties” winkel. ‘n Soort outobiografie – wandelings van vandag en gister se nostalgie in een. ‘n Oulike boek. Laat my onthou (List the places you’ve lived), dink (List your favourite toys you played with as a child), glimlag (List your best purchases),(List your …) vinnig ‘n paar items van die wilde verlede uit-tipex. (Het mos al ‘skies’ gesê en dis weg, sover as die Ooste van die Weste is.)

Outobiografiese lysies maak, volgens Lisa Nola, steek die onthou-vlammetjie-brand van ervarings en kan emosies soos liefde, teleurstelling en angs ontlok. ‘n Kiekieboek. Ek-toe.

Daar’s lysies vir als (mode?):

Musieklys; lys van kilometres gedraf; kortlys vir werksaansoeke (‘n lys waarmee ons nou persoonlik baie te doen kry met Handsome wat werk soek – die senuwees!); ‘n kortlys vir presidentskandidate; lys van 365 nuwe ervarings (een per dag) vir navorsing; Oupa se lysie van hoeveel keer die nuwe haarknipper gebruik is; ‘n laglysie; of die meer praktiese een, ‘n lysie van 10 op die yskas – dinge wat in die huis herstel moet word. (Miskien moet ek maar ‘n klusjesman soek om my lysie te kan aftik). ‘n Lekker een is die lysie van 10 dinge waarvan ek hou of ‘n lysie kosbaarhede wat ek by Ma geleer het. Mens kan heel kreatief raak.

Knipoog-lysies vir dié wat sukkel met uitstel en afstel.

Onthou-lysies.

Haal druk af, vind ek. Help orde skep in hierdie chaos-lewe met uitspansels vol stimulasie. Miskien gee dit ‘n gevoel van beheer, oorwinning wanneer die taak op die lysie deurgestreep word. Uiteindelik in beheer…!

Bring fokus soos met verhuising. Werk goed, veral as ‘n reis na Suid-Afrika voorlê:

Na Suid-Afrika:
30 pakke Praliné (Ons bly mos in die sjokoladefabriek.)
Kantlappie vir Ma
Zoete en ekstra zoute drop, stroopwafels uit Holland
Suid-Afrikaanse paspoorte

Van Suid-Afrika:
Marmite
Lager Rooibostee
Jelliepoeier (al die kleure)

Daar’s ‘n droomlysie agter in my dagboek: wandel in die pers laventelvelde van Frankryk, geblomde antieke teekopies, ‘n bruin-oog meisiekind wat tog eendag sal kan praat… Heerlik droom. Geen grense. Geen verwagtings. Geen teleurstellings. Droom. (Nogal ‘n blootstelling van self.)

Van ‘n lysie sal ek nie beroemd raak nie. Steven Spielberg se Schindler’s List het hom beroemd gemaak. (‘n Klassieke film gebaseer op die ware verhaal van ‘n Duitse besigheidsman. Hy het ‘n lys name gebruik om meer as ‘n 1000 Jode te red van lewe/dood in konsentrasiekampe.) Hierdie film was in 2007 agtste op die Amerikaanse Filminstituut se lys van 100 beste flieks van die eeu.

Om ‘n verlangde doel te bereik (gewig te verloor na die winterslaap) word lysies gemaak met praktiese stappe. Maak ‘n mens dolgelukkig om elke stap doelgerig deur te trek. Vet tog, as die stappe onrealisties is! Stres. Stres. Stres. (Samelewing se vooruitgang gee die wortel –blydskap – en ‘n lat – angstigheid. Ons is bly met vordering om ‘n doel te bereik maar angstig as daar nie sigbare vordering is nie.) Nes die nuwejaarslysie: verloor gewig, moenie uitstel nie, skryf ‘n boek, raak verlief, wees gelukkig. Dan eerder Hollandse vriendin se lysie vir die jaar: gee elke dag iets weg.

Aristoteles sou dalk jaloers gewees het oor hoe maklik dit eintlik is om die sin van die lewe te bepaal. So maklik soos ‘n kruidenierslysie: kry ‘n tattoo, leer skateboard.

Meeste van ons wil onsself verbeter, eie grense oorsteek en uitstap in die een-keer-in-die-lewe-ervarings. Dit is mos die eeu vir ervarings – hoe meer gewaagd en buitengewoon, hoe beter. Mens kan beroemd word, op TV kom. Film akteurs, Jack Nicholson en Morgan Freeman is briljant in Justin Zackham se fliek, “The Bucket List” – nog ‘n Top 10-film van die eeu. Twee manne wat terminaal siek is ontmoet in die hospitaal, verdwyn om saam die lewe te gaan ervaar. Lysies af te merk.

Die einde: Verhoudings.

Die Top 10-lys op klip, eeue gelede daar bo op die berg, het swaar geraak. Afmerk gee mos beheer en aansien. Om elke dag met die Stem te wandel was ongemaklik, onseker. Kies dan liewer die afmerk een. Die volk, toe, moes nog ‘n onthou-lysie maak: onthou julle toe Ek … onthou julle toe Ek … onthou julle toe Ek … Want die onthou-lysie maak dit gebeur in die hart – hoop.

‘Ek-toe’ het ook maar so deur die woestyn van kennis geloop. Die 10 onthous in die kop en op die papier. Lees toe gelukkig van die heel belangrikste lys – die geskenklys. Tel hulle elke dag. ‘Ek-nou’ gee die witkneukel-beheer af. Raak roekeloos dankbaar. Leer wandel. Betrap Hom elke oomblik wanneer Hy die geskenkpakkie los.

Ek leef. Ek’s bly. My koppie loop oor. Daar’s nog steeds druk, twyfel, ongeluk, hartseer. Maar,
die son maak wolke blink
pienk rose in ‘n pot
kindergiggels
oateskoekies se heuningsoet
sterk arm om my lyf
ou blarereuk van die bos

My naam is op die lys vir die *fees van die ongenooides.

*Fees van die Ongenooides – P.G. du Plessis

 

(Hierdie artikel het verskyn in die Winter 2012 uitgawe van Ek en my Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die SAVF)