Sommer net Doll

-Doll se ma –

 

“Ma, hoe sou ons lewens gewees het sonder haar?” vra 16 jarige Boet op ’n dag.

Sy is té klein vir haar ouderdom en te groot vir ons harte.
Lag altyd en huil gevoelvol saam met ander.
Praat nie, maar kommunikeer met drukkies en beweeg gemaklik in mense se private space.
Ons verstaan haar min, maar almal verstaan haar liefde en onvoorwaardelike aanvaarding.

Sy dra bril omdat sy versiende is, maar sien vinnig die emosionele toestand in die huis raak.
Met alles moet sy gehelp word, maar hou nie daarvan om aangejaag te word nie.
Aggressief is sy nie en kom dikwels tuis met bloukolle en kneusplekke, omdat sy lewe op die inherente goedheid van alle mense.
Hoor graag van Pa dat sy mooi lyk in rokkies en is bewus van die komplimente van’n spieël.
Sy drink nie tee of koffie nie en eet graag saam.
Sy kwyl van té veel soetigheid en konsentrasie, maar haar nat, kwylerige soene is opreg.
Speelgoed interreseer haar nie, maar loop graag met ‘n onderbroek of bra om die nek.
Sit graag op die vensterbank en waai vir die dogtertjie oor die straat en is altyd reg vir ‘n wandeling in die sneeu óf son.
Gil luidkeels ‘n welkom wanneer die voordeurklokkie besoekers aankondig.
Die harde geraas van ‘n grassnyer maak haar bang, maar sy wieg loslit saam op die ritme van Boet se techno en rock.
Sy hou van swem, maar raak histeries onder die stort.
Sy sit kruisbeen lady-like op die toilet en maak nog bed nat.
Volg my soos my skaduwee; sit voor die toilet en wag en maak die deur oop as dit té lank raak.
Sy maak ons moeg, sy beperk ons, sy frustreer ons …..

“Sou jy haar ánders wou hê?” vra ek.
“Nee.” sê hy beslis.

Hier in België het hulle ‘n sertifikaat gegee want se sy stap meer as 80% off-beat, sal nooit “normaal” wees nie….

Maar sy het ons geleer dat lewe belangrik is; nie wat jy kán doen of bereik nie.
Lewe gaan oor die pad wat ons saam loop en nie noodwendig die eindbestemming nie.

Liefde en goeie verhoudings is alles, daarsonder is lewe soos ‘n leë parrafienblik.

Haar naam is Breath of God, Lielie, Vlieg, Einstein, Poppie
of sommer net Doll…

(Hierdie artikel het verskyn in die Kersfees 2006-uitgawe van Ek en my Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die SAVF.)