Lekker Goed

Amanda uit België

 

(Vriendin Ellen se glaslekkers uit Venetië – lyk mooi op ‘n bordjie en maak nie vet nie.)

Dis so gemaak, van die begin af.

Almal weet suiker is soet.

Kinders wat sonder soet grootgemaak is, weet soet is soet en lekker. Soet is ons samelewing se stresmedisyne: soet vir moeg, soet vir verveeld, soet vir skok, soet vir hartseer, soet vir frustrasie. Die Engelse woord ‘stressed’ omgedraai lees ‘desserts’ – soet. In die 1800’s was sjokolade soms voorgeskryf vir ‘n gebroke hart. (Lekker dokter!)

Ek soek dit.

Het daarmee opgegroei – die groen suikerrietlande van Natal. Altyd groen. Die trekkers het swaar gesleep aan die gekapte soetheid. En ons het lekker gekou dat die soet spat – suiwer suiker. Ma moes partykeer help om van die harde rietstoppels tussen die tande en tandvleise uit te haal. Als van die lekker kou!

Ek het dit geproe. En nou sit ek nog steeds daarmee.

Dit oorval my wanneer die son skyn, wanneer dit grys is. Daai luste vir snoepies wat nie net by één of tweetjies bly nie. Oeps, die hele pakkie is sommer op! Hy’s mos gemaak om te geniet – dadelik, als. Wie rek nou lekker uit?

Dit sê so lekker, dié van ons: gommetjes, hosties, karamellen, kloefkes, nonnenbillen, ruitjes, spekken, wippers, zoethout, cuberdons. Alles snoepies.

(Woordeboekmense sê ‘n snoep is wanneer iets slegs en hoofsaaklik gemaak word om plesier te verskaf aan die smaakpapille en nie om noodwendig die honger te stil nie.)

Of dit alles lekker is, weet ek nie. Maar ek weet van cuberdons. Ek het hierdie befaamde streeksproduk entoesiasties geproe … ‘n pers, kegelvormige snoepie wat mens laat dink aan ‘n neus. Wanneer mens die neuzeke se punt afbyt, loop die framboosgeurige, verskriklike soet vloeistof (nie sout soos in die neus nie) in jou mond. Dis dán wanneer mens doen wat Ma geleer het: sluk, bid en sê dankie. Die cuberdons moet vars gemaak geëet word, anders versuiker die binneste deel – nes ‘n neus. Dus koop mens dit nét hier. Maar ek koop dit nié weer nie. ‘n Tipiese snotneusie wat ek nie in my mond wil hê nie!

Dit maak my nie vol nie, net lus vir nog. Neem nie my honger weg nie.

En toe kom bly ons ook nog in die sjokoladefabriek – sjokoladepasta, sjokolademelk, sjokoladebrood, sjokoladetert, sjokoladeroomys, sjokoladevrugte en hemelse modder (sjokolade mousse). Nou dra ons tassevol aan – familie en vriende toe. Hulle het dit geproe.

Ek begin dit sien.

Ons ontdek toe die Neuhaus sjokoladefabriek se winkeltjie. (In 1912 maak Jean Neuhaus die eerste Praline – sjokolade met ‘n spesiale vulsel). Met goeie voornemens stap mens daar in. Proe hier, proe daar. Ongemaklik soet en ‘n aktiewe brein later is dit huistoe-gaan-tyd met ‘n paar kilogram dose sjokolade vir geskenkies aan gaste, verjaarsdagpersente, spesiale bederf saam met die koffie. Goeie voornemens totdat die manne die wegsteekplek tuis ontdek en die sjokolades laat wegsmelt.

Brugge is ons sjokolade-Mekka met meer as 45 sjokoladewinkeltjies en-ateljees. November is die maand vir die sjokoladefees. Want kyk, sjokoladewerk is ‘n kuns. Van pralines tot sjokoladestandbeelde en-fonteine. (Daar’s tot ‘n Astrid praline in 1937 ter nagedagtenis aan Koningin Astrid van ons koningshuis geskep.)

Ek moet bly proe.

Ons groot Resepboek sê dit: proe, proe, proe …

Maar sjokolade doen dit nie vir my nie. Behalwe, rotte patatten (vrot aartappels) soos dit bekend staan in die volksmond. Sneeuwballen! ‘n Heerlikheid wat in die wintermaande gemaak word omdat dit smelt wanneer dit blootgestel word aan temperature bokant 18°C. ‘n Romerige, opgeklopte vulsel van plantaardige stowwe in donker tuisgemaakte sjokolade en ‘n dun lagie poeiersuiker bo-oor. Smelt-in-die-mond-lekkerte, hemels!

Julle in die suide gaan weer winter hê… Hoop daar’s lekker choco-laté’s vir die koue dae. My snoepie vandag, was my eerste pienk rosie in die tuin. Dankie Vader!

 

(Hierdie artikel het verskyn in die Herfs 2013 Jaargang 23 nr 1 uitgawe van Ek en My Kind, kwartaalblad van die Ouerleidngaksie van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie – SAVF.)