Kinderen met de Leukste Glimlach

Amanda uit Belgie

Die handjie is sweterig. Sy stress.

Die grootman huil agter Mamma se skouer. Nikitia sit kiertsregop op die stoel naby die hoek van die kamer. Olivier praat en lag deurmekaar. Ons verstaan nie. Ons verstaan wel die innige drukkies – ons is welkom.

Die straaltjie spoeg word weggevee uit die hoek van ‘n mond.

‘n Diep stem sing agter die toe deur van die toilet.

Alles-pienk gee sy haar vertoning voor die televisieskerm. Oë toe en met ietwat swaar lyf skuif saam op die ritme. Haar eie wêreld. Gevoelvol sing sy, ”I will always love you …” Dis Veronica.

Ons het by die jaarlikse tienerkamp vir “Kinderen met de leukste (mooiste) glimlach” aangekom.

Daar’s bont vlaggies en bont glasies. Dit gaan ‘n week se fees wees want 10 jaar gelede het sendeling Mathias en sy vrou van Duitsland dié kamp vir die eerste keer gereël. Dis vir kinders wat stadig – of selfs glad nie – reageer op opdragte.

Dis groen. Dis somer en somer is kort.

Die bure is vriendeliker, die verkeer verdraagsamer. Sonsambrele kleur die hoekkafees en mense sit uitgestrek by tafeltjies. Die rose blom. Agter heinings word gras gesny. Dis someruitverkopings. Die parke is vol etensuurbaaiers. Wanneer die son warm maak, word agendas aangepas om van dié vrygewigheid gebruik te maak.

Dis vakansie. Reisburo’s adverteer ‘last minute’ vakansiebestemmings in die son. Ons mediese fonds stuur ‘n vakansie strip (strokiesverhaalboekie) wat vra of ons gereed is vir die vakansie met inligting oor Malaria, Reisigersdiaree, Hoogtesiekte en Geelkoors. Die dierebeskermingsvereniging praat oor troeteldiere wat tydens die vakansieseisoen vergeet word of toegesluit word in die warm motor. Die gemeente (munisipaliteit) waarsku dat diewe nie met vakansie gaan nie!

Die lang somervakansie is altyd volgepak met aktiwiteite vir gesinne en kinders. Die kinders moet besig gehou word want die vakansie is lank. Hoe meer buite, hoe beter. Ons streekkoerantjie is swaar – kinderjogging, groot natuurspel, sportweek, boerderydag, sirkusdag, kinderfuif, wandeltogte, kreatiwiteitsweek en dan die crisisfestival (krisisfees). Hierdie fees het ontstaan in 2009 met die uitbreek van die Belgiese regeringskrisis en die wêreldwye finansiële krisis. Intussen het nog Arabiese lentes en Griekelande gevolg en die fees het gebly, om vir ‘n oomblik te ontsnap. Die bonus: GRATIS vermaak vir oud en jonk.

Saterdagoggend.

Hulle wag Pappa en Mamma by die hek in.

Olivier praat en lag deurmekaar. Ons verstaan nie. Ons verstaan wel die innige drukkies – ons is welkom.

Die opgewondenheid raas.

Daar word gehang aan Pappa en Mamma se arms.

Ek kry ‘n soentjie op die wang van 22-jarige Olivier en Dolla roep: “Mamma!” van blydskap.

Hulle staan voor. Die kamplied word gesing. Jeroen reageer nie. Tim met Downssindroom neem hom aan die hand en trek hom saggies vorentoe. Jeroen kry vier arms as Tim agter hom staan en help om arms te beweeg op: “ Ik wil U loven… Ik wil juichen… Want wat U doet Heer is zeer goed.” Jeroen lag oopmond, stil. Dis lekker. Harte word geraak. Ons glimlag, vee trane weg.

Die groot verjaarsdagkoek word ingedra. Ons eet lekker. Twintigjarige Kimberly hakkel rustig oor Dolla wat so v-v-veel b-b-boterhammen (baie toebroodjies) kan eet.

Sestienjarige Veronica se babarateltjies bring bekendheid, sekuriteit.

Ons kyk 10 jaar se kampfoto’s. Hulle lag en klap wanneer hulle hulself herken.

Knuffels (drukkies) word uitgedeel tot volgende jaar. Ek kry nog ‘n soentjie op die wang van Olivier.

Pappa sleep die tas kar toe.

Ons praat oor hierdie grootmenskinders, wat so vrylik lag en huil; gemaklik is in hulle kwesbaarheid. Hulle skenk onskuldige vertroue en afhanklikheid. Is kinderlik en eenvoudig in geniet en lewe. Blom met aandag, liefde, ruimte, tyd. Meestal is ons beloning nie spronge in ontwikkeling nie, maar die besef hoe kosbaar lewe is. En ons is dankbaar “Want wat U doet Heer is zeer goed.”

Agter in die motor, haar kop raak swaar. Dolla met de leukste glimlach slaap.

(Hierdie artikel het verskyn in die Somer 2012 uitgawe van Ek en my Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die SAVF.)