Welkom Vreemdeling

deur Tienerkind se ma

 

‘Stollen’, goue sjokolademunte en Sinterklaaskoekies is al op die rakke. Die Kersversierings lê die rakke en vensters vol. Kersfees kom. Tyd vir geskenke, kaartjies, koekies en wie om te nooi vir die Kersete. Die welkom.

‘Welcome’ … geskryf op die mat by die voordeur. Hier word skoene afgevee op die Welkom. ‘n Sierbordjie – ‘Welkom, Willkommen, Bienvenue’ by die klokkie verwelkom vriend en vreemdeling, of is dit eintlik net vriend?

Ek onthou die jare van vreemdelingskap. Toe Tienerkind vreemdeling geword het en die welkom moeilik. Dit was in ‘n land waar ons nie gebore is nie. Wou ander gaan leer oor die ander pad stap en oor hoop. Maar al gou het dit vir óns net donker pad gebly met min hoop.

Tienerkind het moeilik gestap. Gestoot teen sy andersgeit. Gebeur teen streng lyne van skool, prestasie en negatiewe kritiek.

Wilde energie en emosies.

Soeke na self.

Vreemdeling het hy geword, vir homself en ons. Hy is verwelkom in donker strate, het verdwyn onder rookwolke, geëksperimenteer, saamgedoen en voorgedoen. Sy praat was nie meer ‘ja’ nie, maar seepgladde verhale en swets totdat dit ‘ja’ geword het aan die Edelagbare. Tienerkind het vreemdeling geword, ‘bootse’ afgevee aan ons welkommat.

Welkom sê: “Hallo! Ek’s bly jy’s hier. Wel, kom… stap saam na my huis; my tafel; my hart. Hier is jy welkom.” Hierdie woordjie kan alleen gegee word as daar niks is om te verloor nie. Welkom is skaars ‘n woord – eers ‘n gesindheid, ‘n handeling en dan woorde as dit moet. Dis ‘n glimlag in die oë, ‘n uitgestrekte hand, ‘n skouer, ‘n oor – ek hoor al verstaan ek nie, saam loop, saam sit – tyd, ‘n vol mandjie oor die arm.

Ek het geweet, maar nie verstaan nie – nie die reëls van tienerland nie en ook nie die reëls van die ander Koninkryk nie.

Tienerland is fisies. Lojaliteit aan die groep ‘n sterk band. ‘Behoort’ bepaal die ‘hoe’. Die stroom is sterk – die ‘nou’ en ‘lekker’ vooraan.

Ons het gemeet en gepas met eie kultuur, nuwe kultuur, eie voorkeur en ander Koninkryk se kultuur. Die somme het nie gewerk nie – mooi leef en reg kies waarborg nie perfek nie.

Die vreemdeling in die huis het sy ’bootse’ afgevee op die welkom by my deur. Ek het álles verloor – inspraak, reputasie, drome, beheer, hoop. Welkom het ‘n woord-bordjie geword vir vriende.

Kersfees het baie keer gekom.

Ek het begin verstaan van Kersfees. Die Koning self het afgebuig en kontak gemaak – welkom gelééf. Hy laat my by Sy tafel sit, elke dag, solank as wat ek wil, vir altyd. Ek het geëet. Geleer van nie ‘n perfekte ouer wees nie, maar net goed genoeg, want Hy bepaal, Hy maak, Hy herstel. Hy buig ook af na tienerkind, nooi hom om by Sy tafel te sit, elke dag, solank as wat hy wil, vir altyd…

Vreemdeling tienerkind het weer vriend geword.

My hart, my lewe is teruggevind.

Ek leer. Sê welkom vir onbekendheid, vir blydskap, vir hartseer – vir léwe; verwelkom vriend en vreemdeling, want miskien is dit die Koning self. Want om die deur oop te maak en te sê, “Welkom in my huis, by my tafel, in my hart” bring genoeg, méér as genoeg, oorvloed eintlik.

So het ‘n Joodse meisie eeue gelede ‘ja’ gesê, haar hart oopgemaak en dit was Kersfees en ons vier dit nog steeds.

 

(Hierdie artikel het verskyn in die Herfs 2013 Jaargang 23 nr 1 uitgawe van Ek en My Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie – SAVF)