Le Képi Blanc

deur Amanda van België

 

My familie sorg altyd vir die interressantste leesstof en Youtube-filmpies.

Kry toe op ‘n goeie dag e-pos. (Wonder of die man nie werk het nie?) “Kyk dit!” met die nodige strepies, lettertjies en dinge om daar uit te kom. Ook nie lank nie of Handsome bel en vra, “Het ma gekyk?”

Ek hoor hy rook. Dis koffiepouse. Ek wens hy wil ophou rook! Want, sê hy, op sý skerm is die nodige aansoekvorms om deel te word van hulle, die Franse Vreemde Legioen. Dis wat hy wil doen. Vyf jaar-kontrak, sê hy. Geen kontak met die buitewêreld nie. En mens kan selfs vra vir ‘n nuwe identiteit! (Na ons guerilla-oorlog van die tienerjare, is ek mý identiteit kwyt. Wonder of hulle vir my een sal gee?)

Toe kyk ek maar…

Die hond het getjank om te gaan loop. Ek het gehoop buurvrou kom nie langs nie, want ek sit toe nog ongepolish en in jamies en Dolla-kind het iets beduie van eet. Maar ek het gekyk. En gekyk. Viér episodes verder. Ure, weet ek nie.

Van twaalf gewone manne tussen 19 en 40 wat vrywillig êrens waar Marokko oorloop in die Sahara by ‘n fortgedoente op klipvlaktes afgeklim het en vir ‘n maand lank die basiese opleiding van die Legioen gevolg het. Elkeen met sy eie geskiedenis en storie van hoekom. Bear Grylls, oud-soldaat van die Britse Spesiale Taakmag vooraan.

Vier weke van draf en klippe skuif; kners, swets en sweet; bloed, blase, seer knieë en verstuite enkels; hongerly en min slaap; sing, geskiedenis en Frans leer; pyn van binne en buite; vernedering, lae moraal en die koperklok wat gelui word as huistoegaan ál is wat oorbly. Oënskynlik sinnelose swaarkry en steeds maar deurdruk: dag in en nag uit, totdat die voete die vlak branders van die Atlantiese Oseaan binneplas. Die einde! En dít alles vir daai glorieryke ‘képi blanc’ (wit keps); behoort aan dié familie wat sal moor, maar tog sorg vir sy eie…

En ja, ek kan sien hoekom dit roep.

Dis die wilde hart van die man. Die roep van die natuur. Van bruisende krag, oefen, meet en oorwin. Dissipline. Die avontuur van grense uitdaag, verskuif en fynvuur-loop langs die afgrond. Presisie. Radikaal vooruit vir iets groter as jouself. Van behóórt en familie en sáám.

‘n Nuwe identiteit. Geen geskiedenis, ’n vars begin – ongesout.

En êrens binne hoor ek die sagte stem. Dit roer en ek wonder oor die sagte stem binne hom wat nie stilgemaak kan word nie, want geskiedenis het ’n stem…

En vir myself, sien ek dit. Vir wanneer dit knars en kners gaan, in die Legioenstryd van elke dag.

‘n Positiewe ingesteldheid bring ‘n mens ver.

Aanhou, uithou, aanhou, uithou, tree vir tree.

Bevraagteken of bedink? Glad nie! Hou jou mond, al moet jy jou mond vol klippe stop. Doen net die volgende ding wat reg is.

Wanneer jy dink jy kannie méér nie, kán jy nog. (Een van Manlief se leefgoed, want hy het ook twee jaar in die weermag gaan draai.)

Wanneer temperature aan die 50˚C lek, drink. Drink baie. Drink diep. Van die Fontein van die lewe.

Die grootste stryd lê nie in die spiere of bene nie, ook nie in die asem nie. Maar in die kop.

Dink ‘ons’, nie ‘ek’ nie. ‘Ek’ is deel van ‘n groter liggaam. En nooit alleen nie, het Hy beloof.

Sing. Sing hard. Sing baie. Dit bou die moraal.

Soek elke dag die klein genadegeskenkies – ‘n stortbad, ononderbroke slaap, sonsondergang, stilte van die woestyn.

Bemoediging en aanmoediging. My oorwinning word jou geskenk.

Die Woord as inspirerende metgesel.

En die koperklok? Word.nié.gelui.nie. Nóóit nie.

En aan die einde, die ’képi blanc’ – die kroon . ‘n Duur prys van ontbering, pyn en leiding. Skatte is nie goedkoop nie. En op die ou end werk álles ten goede mee.

En wat van Handsome?

Ja. Natuurlik. Met my hele hart, ja!
Hy het dit alles. Die krag, die moed, die hart en die astrantheid.

Maar (sy Lief het sommer begin huil oor hierdie nuwe idee),

“Vir vyf jaar? Nee!” sê sy ma.

(Hierdie artikel het verskyn in die Herfs 2014 Jaargang 36 nr 1 uitgawe van Ek en My Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie – SAVF.)