Chris Henrico
Daar was hy – die klein mannetjie met die groot stem, groot snor en groot hart. Kon hom nie mis nie. Het sy staan gestaan en sy sê gesê – moes dit maar vat soos dit kom, geborduurde taal en al. Dit wat jy sien, dit het jy gekry – geen pretensies.
Harde oliehande, sigaret tussen die vingers, glimlag – elke dag gewerk om te sorg, te voorsien.
Die spanners en die moere en die starters ís nog steeds en sal nog steeds kom, maar die man met die blou oorpak wat als en almal reg ge-order het, is stil, ons onthou hom nog net. Die werkswinkel is vandag net ‘n groot oopte – spanners, moere en starters lê sommer net. Die ou volla het ook sommer swaar gaan lê. Wie gaan hom nou fix?
Hulle sê, ‘n diamant lyk sommer klip as jy hom in die stof of rivier raakloop. Sal nie eers weet dis die regte een nie. Chris, met sy seer tone en plakkies (ek dink hy’t spesiaal vir Marisca se troue skoene aangehad) het stof gemaak. ‘n Mens kon hom maklik vir sommer klip vat, maar gou in die hand, was dit ‘n rowwe diamant met ‘n goue hart. ‘n Groot hart vir ou Stoof en die meisiekinders (én die manne), vir pa en ma.
Saans, wanneer die shop deure toegemaak het, het hy by sy houtkroeg op die stoep gesit. Rustig. Die dag neergesit. Môre is nog ‘n dag.
Kuiertyd was vleisie op die kole en die mense in sy lewe. En die katte eet saam. Erens was daar ook melktert.
Groot Chris.
Stukkende starters gaan in iemand anders se hand lê. Word iemand anders se probleem.
Maar die sien, regmaak en start lê ingebou in die meisiekinders. Sy gee-hart was sterk. Sy gee-hart is ín hulle. Hoef dit nie te fix nie, net start. Dis dáár. Ons hemelse Vader het geweet. Dit daar gesit want Hy ken vir Chris.