Oom Eric Janse van Rooyen

† Vrydag 3 mei 2013

 

‘Don’t grieve that he’s gone, wonder that he was.’

Hierdie oom van ons, kort, met stewige Van Rooyen-bene, son in die hare en lig gesproet. Sagte hart het hy gehad. Altyd gelag en bly om ons te sien. Altyd gepraat van ‘my meid’. Maar die huil was nooit ver van die lag nie. Die trane het sommer maklik gevloei met mooi musiek of wanneer hy bly was om ons te sien.

Sommige het hom en Pa verwar met mekaar, so baie het hulle op mekaar getrek – dieselfde hande, voete, bou. Want soos Pa, het oom Eric ook gestoei. Hande is grof gewerk in die boubedryf. Ek onthou nog die bakkie met bouers wat soggens vroeg vertrek het en laatmiddag weer teruggekom het. Ek onthou die tyd toe hulle in die ou huis gewoon het in Wonderboom-Suid, want die groot, nuwe huis is so in die vrye tyd gebou met baie hout en daar was die kristalkandelaar in die sitkamer. Die huis het agter in die erf gestaan. Daar het ons baie kom kuier – vakansietye en later jare toe ek en sus in Pretoria geswot het. Lekker saam met hom sy pap en wors geëet. Dit was soos ‘n tweede huis.

Ek onthou die uitgebreide familiedae op Kersdag en Nuwejaar, die partytjies in die motorhuis en die braaivleis en pieknieks by die Fonteine, onder die bome. Daar was altyd musiek. Countrymusiek en braaivleis by Fiestaland, Hartbeespoortdam. Met Tommy Oliver en Gene Rockwell. Blonde Caroline du Preez was sy gunsteling.

Oom Eric sal ons mis – sy lag, sy trane, sy groot hart. Sy lewe het ons lewens geraak.