Wanneer die Ritme Anders is

Amanda uit België

Ons huis.
18 Desember 2013. Dis weer amper Kersfees.

My liefste Dolla

Jy verjaar vandag! Jy’s 20.

Daar’s nog cupcakes oor wat ek vir die skool gebak het. Ons sal dit vanmiddag eet wanneer die skoolbus jou huistoe gebring het. Ek is só opgewonde want Pappa het vir jou ‘n bos geel rose gekoop… Ons weet jou hou van pienk, maar die geel is die geel van die son omdat jy altyd so bly is. Geen man gaan óóit vir jou blomme koop nie. Nou doen Pappa dit. En jy gaan nie mooi weet wat om daarmee te maak nie! En ons gaan fotos neem!. Ons stort soms ‘n traan of meer, want met jou andersgeit mis ons maar die gewone – die kreatiewe tienerjare, seunsvriende, trou en kinders hê. Jy’t ons geleer om bly te wees oor wat ons hét en nie te treur oor wat ons nié het nie.

Boeta het lank vir jou gebid – vir ‘n sussie. En ons het ewe hard gebid dat dit tog so moet wees, want hoe verduidelik mens dat jy nie altyd kry wat jy wil hê nie? Dis vir ons lekker om te sien hoe julle mekaar geniet! Baie keer as jy op skool is, glip ons gou uit om saam met hóm iets te doen want hy is net so spesiaal soos jy. Ek en Pa het gereël dat ons soms op ‘n oggend ietsie saam gaan doen, sonder jou. Het mos al gesien as dit met ons goed gaan, dan gaan dit met jou goed. En jy hou tog nie altyd van wind, baie trappe, ver loop en nuwighede nie.

Ek het besluit om hierdie keer vir jou ‘n brief te skryf in plaas van ‘n kaartjie. Dit neem wel langer. Maar ek het tyd om te dink wat ek wil sê. Tyd… mmm… Jy het ons uit die mallemeule van werk en tyd geruk. Tóé was ek nie bly nie, maar nou wel. Ek was maar altyd haastig, maar ons moes aanpas by jou ritme. Jy raak sommer woes kwaad en ongemaklik wanneer ons jou wil druk om tog gou te maak, veral soggens om gereed te maak vir skool! Ai. Maar so moet ons eintlik lewe – rustig en dinge sáám doen. Ons wil so graag punt sit agter iets wat ons gedoen het, klaar gemaak het. Maar jy leer ons nog steeds die eintlike ding is om goed sáám te doen. As ons al vier saam is, is jy op jou gelukkigste. En eintlik ons ook.

Soms raak die stap maar swaar, want ek is nou maar selfsugtig en wil net aan myself dink. Net myself bad en aantrek en eet wanneer en wat ek wil en doen wat ék wil sonder om aan iemand anders te dink. Dan moet ek maar met iemand gaan praat – nie met Pappa nie want hy kry ook maar soms swaar hiermee. Jesus is altyd goed, en tannie Liz. Tannie Heddy en tannie Ellen, mamma se vriendinne, het al kleinkinders en jy sit nog op my skoot, dra nog doek en moet gevoer word. As ek so ‘n dag saam met hulle weggeloop het, is jy baie bly om my weer te sien en ek is bly ek het tannie Annie en tannie Ellen gesien. Ons het dan in ‘n mooi dorpie gaan koffiedrink, of in oulike winkels gedroom of roosbome gekoop vir ons tuine. Wanneer jy slaap op ‘n Dinsdagaand, verdwyn ek in ‘n wonderland van teken en verf saam met ‘n groepie mense. Ek het jou gesiggie al geteken en die glimlag in jou oë probeer vaslê op papier. Altyd die blink oë.

Jou léwe is ‘n geskenk. Nie wat jy eendag gaan doen of word nie. Want ons is reeds daar. By eendag. Maar jy is nog net jouself – liefdevol en tog so afhanklik.

Deesdae kan ‘n mens oral inligting kry. Mens hoef net te google. (Nou weet ek, as ek google sê, gaan jy lag. Dankie Dolla, jy het ons geleer sien! Sien soos jy sien. En lag oor die klein koddighede van elke dag – soos brommers slaan met ‘n plak en die water wat spat wanneer ‘n glas omval. Jy’t niks nodig om te lag nie! Ons moet meer lag – dis ‘n sterkte.) Ons het al baie gelees om tog net ‘n sleutel te kry wat jou dalk gaan help. Maar ek dink jy hou aspris daai sleutel vas want jy geniet al die mense: van die genedokter tot die huisdokter, die proffies, van die spraakterapeut tot die perdryterapeut, pasiënte in die wagkamers, ontvangsdames, sekutiteitswagte, tegnikuste, radiografiste. Ek dink jy is meermale die hartdokter vir baie van hulle met al jou blyheid oor die lewe! Toe kom ons by die een wyse prof met sy dik boek wat gesê het, “Stop. Julle het nog ‘n ander kind ook.” Dis nou Boeta. En ons het toe na hierdie dokter én die stem van die Groot Dokter in ons harte geluister. En. Gestop. Baie het dit nie verstaan nie en selfs gesê ons is ‘onverantwoordelik’ – groot woord vir ‘sorg nie goed vir jou nie’.

So van mense gepraat, jy slaap te graag in Boeta se bed wanneer hy voor sy rekenaar sit en jou moet oppas. En jy hou van Carina en Kat en om oor te slaap by Lien en te kuier saam met Nele. Dis nie vir my maklik om hulp te vra nie, maar ek moet dit maar doen, want ek raak maar moeg van al die werk. Onthou jy die keer toe jy oorgeslaap het by die Willekom Hotel en die kampe in die somer vir jou en jou maatjies? Ek slaap nooit goed die eerste nag as jy so ver van my af is nie. Want jy skop jouself oop en kan jouself nie weer toemaak nie en sê, kan jy ook nie. Maar op die ou end weet ek jy het die mense geniet en die mense het jou geniet en Mamma het weer die lewe geniet. Ons sal dit weer moet doen en ek berei myself nou al weer voor daarvoor.

Mamma ook al ‘n lelike ding gedoen… ‘n paar keer al! Miskien weet jy daarvan. Ek dink dit kom van Oumagrootjie af. Sy het dit ook vir haar kind gedoen, vir tannie Siena met die haaslippie. Kon nie glo sy doen dit nie, maar nou verstaan ek. Die pyn gaan diep en dan dink ek nie mooi nie. Wanneer kinders so na jou staar en nie jou mooigeit raaksien nie, dan het ek vir hulle tong uitgesteek as die ma’s nie kyk nie! Ek weet dis lelik, aar die pyn is ook onverwags. Dan moet ek maar weer skies sê vir die Here. Darem is daar ook mense soos Riikka van die kerk. Sy kom uit Swede. Sy praat altyd met jou Sweeds en jy in jou taal en so voer julle ‘n heerlike gesprek. Ek dink julle verstaan mekaar!

Ons sal vanmiddag vir jou sing ook. Jy is so lief vir musiek – veral iets met ‘n lekker ritme of Oupa se Boeremusiek. Boeta se wilde dae met sy Rockmusiek het jy die meeste geniet van ons almal. Jy’t arms geswaai en lyfie geruk van lekkerte. Ons het nog ‘n foto daarvan! Daai klein koppie draai so skeef om die ritme te voel en dan begin die handeklap en armgeswaai. Vir ons is dit ook goed om te klap, te huppel en te spring saam met jou. Dan lag jy dat die spoeg sulke lang drade maak. En, almal lag. Maar weet jy, daarna voel ‘n mens sommer weer lekker.

Mamma moet gou met Bella gaan stap. Ja. Bella. Wanneer jy net haar naam hoor, hou jy nie op lag nie! Vandat ou Bella-hond by ons kom bly het, het jou banggeit vir iets wat beweeg of wollerig is, byna verdwyn. Jy en Bella speel so lekker saam met haar tou. Bella is ook goed vir jou oggendhumeur. Jy lag sommer gou as sy by jou is of wanneer sy teen jou opspring as jy baie kwaad is. Pa is hanswors so vroeg in die oggend net om jou aan die gang te kry. Mens leer maar om enigiets te gebruik wat werk. En met jou werk Bella en grappies baie goed.

Jou Psalm sê: ‘… maar óns sal roem op die naam van die Here onse God.’ (Psalm 20) Want Hy is goed, jy is goed en ons is bly.

Pienk sakke vol liefde
Mamma


Wenke vir die vrou binne die gestremde gesin

 Fokus op die Here se teenwoordigheid elke dag – jou troos.
‘Hoekom’ is ‘n vraag wat tyd nodig het om te verwerk, maar fokus eerder op ‘hoe nou verder’ en ‘wat leer ek hieruit’.
Maak voorsiening vir die toekoms, maar leef dag vir dag.
Wees dankbaar vir wat jy het in plaas van wat jy nie het nie.
Spreek veral dankbaarheid uit teenoor broers en susters wat help met die gestremde.
Identifiseer die verlies, gee aandag daaraan en rou. (Dit kom so van tyd tot tyd.)
Aanvaar jou kind en die situasie.
Bepaal gesamentlik wat is haalbaar vir die hele gesin. Vereenvoudig soveel moontlik.
Maak gebruik van al die hulp wat jy kan kry.
Rus genoeg en doen iets lekkers vir jouself.
Beplan ontspanningaktiwiteite vir gesinslede individueel en gesamentlik, maar ook vir die gestremde kind.
Maak gereelde afsprake met mekaar as egpaar.
Gee individuele aandag aan die broers en susters.
Praat wanneer dinge te veel raak – met ‘n berader, goeie vriende, sielkundige, ouers in soortgelyke situasies, in ‘n ondersteuningsgroep. (Dieselfde geld vir die broers en susters van die gestremde kind.)
Deurlopende, eerlike kommunikasie oor emosies, hantering, doktersbesoeke, diagnoses, ens. binne die wyer familie- en vriendekring.
Gee riglyne aan familie, vriende en versorgers oor die hantering van die gestremde kind.
Hanteer die gestremde kind so normaal as moontlik.
Soek die humor in situasies.

(Hierdie artikel het verskyn in die Somer 2014 Jaargang 36 nr 4 uitgawe van Ek en My Kind, kwartaalblad van die Ouerleidingaksie van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie – SAVF.)

 

(Fotos het nie in die tydskrif verskyn nie, maar is later bygevoeg op hierdie blad alleen.)