tannie mart van rooyen

† 24 julie 2013

 

ons was nog in die lug oppad terug belgië toe, op 24 julie. ons het nooit die boodskap ontvang nie want ons selfoon was nie op ‘roaming’ nie. eers op die dag van die roudiens het ons gehoor – ‘n week later. dit was ‘n skok. sy was die laaste van pa se hele familie wat binne ‘n jaar en ‘n maand of wat, almal oorlede is.

ek het my eerste begrafnispolis deur haar uitgeneem. ek het gereeld gaan kuier om ook die premie vir die maand te betaal.

tannie mart (en oom eric) was altyd gavry. as student was hulle huis soos ‘n tweede ouerhuis. net ‘n telefoonoproep ver en sy het my kom haal. ons het gesels by die komuistafel met ‘n koppie tee en beskuit of tuisgebakte koekies. ons maats was ook welkom en het ons baie saterdae daar gaan kuier, by die huis met die groot grasperk, voor in die erf. oom eric het ook baie keer saamgespeel op die grasperk met die tennisbal – nommers uitroep en raakgooi dat die rooi kol brand sit. ons het dit ‘eggy’ genoem. daar was ook bok in die hok. chips en coke was ons jongmenskos. en toe ek my nuwe motor op die sypaadjie tussen die steenmuurtjie en die boom parkeer het, het sy vinnig ‘n koppie soet tee gegee. want ek het te skerp gedraai en die motor mooi styf teen die boom parkeer.

daar was baie keer lekker pap, wors en sous op die spyskaart.

ek sal altyd die blonde krulhare en mooi blou oë onthou. sy het mooi gelyk in poeierblou want dan was haar oë nog blouer. plakkies het sy gedra. ek onthou spesifiek die goues want skoene het nie gepas aan die geswelde voete nie. sy het haar naels geverf met pêrelkleur naelverf.

die laaste keer wat ek met haar gepraat het oor die foon was sy soos altyd baie bly om van ons te hoor. daar was trane en ‘n glimlag in die stem. dit was moeilik om te glo dat sy skielik net lewensmoeg geraak het. die hart het swaar geklop en oom eric was skielik weg…

ek het ‘n foto-voorskoot van die hele familie. daarop was almal nog gesond. ‘n geskenk van hulle af vir my 50ste verjaarsdag.

sy was maar net 70…

die orgideë in my badkamer sal my altyd aan haar laat dink want tannie mart het baie van orgideë gehou.