Sommer Klein
Vyf weke was te lank. Vyf weke was te kort. Vyf weke weg was genoeg. Ouers oor die waters moes versorg word.
Toe sy die stem hoor, het ons Dolla hoorbaar “gepappa” en nog ‘n toon hoër, koppie skeef gedraai om seker te maak sy hoor reg en toe sommer gegil, “pappaaa, pappaaa”, op en af gespring met Bella hond wat sommer gek word van blygeit! Eindelik was hy weer tuis.
Na ‘n koppie tee met gekoopte Hollandse appeltertjies (die oond is stukkend en het ook vyf weke geduldig gewag) en al die onmiddellike vrae van hoe vol die vlug was en of hy lank moes wag en hoe gaan dit met pa en ma en met die en daai, pluk Handsome (boet) die tas nader en begin uitpak…
Alles sorgvuldig toegedraai, vasgeplak en in plastieksakkies en tussen die hemde, drafklere, broeke ingepak. Sommer klein goedjies want by Sus kom mens nie verby nie. ‘n Pakkie word altyd saamgegee en vir elkeen is daar ietsie want “dis sommer net lekker om so ‘n ou ietsie saam te gee”:
‘n warm dik wol sjaal vir Dolla wat sy self gebrei het, maar ek moet tog net fraiings aansit want haar wol het opgeraak; ‘n lekkerruik roompie vir die lyf en die bad; ‘n paar ou tydskrifte want daar is spesifieke idees oor pakkies toemaak en goedkoop klein geskenkies om te gee want Kersfees kom; ‘n ou tydskrif oor iemand wat ook skryf…
‘n oefenlappie met ‘n sierlike flinder geborduur want sy het ‘n kursus gedoen oor masjienborduurwerk en miskien kan ek nou ietsie moois maak met die flinder; ‘n groot pak ‘Jelly Tots’ vir Handsome se soettand; ‘n kleurvolle huisbroek wat apart gewas moet word want die kleure loop; Top Deck van Cadbury’s misvormd van die warmte want toe hy daar weg is, was dit begin van somer; handsakgrootte pers batterywaaiertjie vir die leeftydgloede van hom af want hy wou iets spesiaal vir my kry; die handgemaakte kraleman-en-vrou van die straatkind vir die toiletdeur; ‘Old Spice’ spuitgoed vir Handsome en pienk ‘Ballet’ spuitgoed vir Dolla
en…
Alles sommer klein.
Maar klein is groot.
Want groot begin altyd klein.
Maar klein kan misgekyk word.
As klein raakgesien word,
is klein sommer groot, baie groot!