Melk uit die Melkbekertjie
Sy neem die melkbekertjie op die skinkbord en drink dit leeg, klap haar tong van lekkerte en vee die melksnor met die agterkant van die hand af. Sy was nog altyd lief vir melk. Ons trek groot oë. Vroeër sou sy dit nooit gedoen het nie… Uit die klein rooi blikkie, haal sy ‘n klapperkoekie en prop hom heeltemal in die mond. Met bolwange, kou sy smaaklik. Haar gunsteling.
Etenstyd sit sy op haar plek saam met Buurtannie. Trots-bly beduie sy na ons en vertel dis haar twee dogters. Onaangeroer kyk Buurtannie anderpad. Sy was altyd lief vir mense en nou het die sukkel om sin te praat, haar eensaam gelaat. Ons soen haar op die kop waar die breinoperasie ‘n duik gelos het. Sy proe-proe aan die ete en drink dan haar glas melk met een teug op. Behaaglik lek sy haar lippe af. Buurtannie eet nog. Ongeduldig staan sy op en sê sy is versadig, kan nie soveel eet nie. Die versorgster neem haar vol bord kombuis toe. Hulle weet al. Skaars 10 minute later is sy honger en wonder wanneer eet hulle dan nou.
Toe ek onverwags daar opgedaag het, het sy in die donker kamer op haar bed gelê, kussing onder die een been. Onthou het stadig oorgeloop in ‘n kinderlike giggel-lag van blydskap en baie verlang. Ons moes die gordyn wegskuif en haar skoene aangee. Lê wou sy nie meer nie want haar twee dogters het kom kuier. Die maer lyf het ons styf vasgehou. Gesoen. Sy het al so verlang. Haar man is mos laaankal ‘weg’ en sy het net die twee dogters, vertel sy ons.
In die week wat volg, kuier ons in die kamer, in die algemene sitkamer, op die stoepie langs die katjiepieringboom. Ons gee die boompie water want sy onthou nie. In die rooi rolstoel stoot ons haar om tuine te kyk. Haar tuin was altyd baie mooi en sy het die name van al die plante geken. Sy streel oor blare en ruik aan blomme. Ons noem van Poinsettias, Strelitzias, Luiperdbome. Sy giggel oor die trop apies wat oor die straat skarrel en tussen die boomblare verdwyn. Sy en pa het dikwels met die woonwa wildtuinvakansies gehad, omdat hulle so lief was vir die natuur met sy mooi diere.
Ons kyk fotos. Met bewerige vinger beduie sy wie op die foto’s is – haar pa en ma, ouma Hannie, niggie Joey, Pa se familie. Sy onthou. Ons praat van die aftree-huis, die mooi tuin met die ‘fat lady’ Botterboom uit Windhoek in die voortuin, Kersetes onder die lapa, die lemoenboom voor die agterdeur, haar twee ‘hoendertjies’ (duifies) wat sy onder die boom gevoer het… Sy frons. Ons raak stil. Sy onthou nie! Drie-en-twintig jaar se lewe is net, weg!
Ons gaan deur haar kas en ruik aan al die klere, want sy onthou nie om vuil klere in die wasmandjie te sit nie. Ons praat met matrone oor stort, want daar is ’n geurtjie. Maar sy bad elke dag, want sy is nie ‘n vuil vrou nie, verseker sy ons. Sy glimlag vaagweg wanneer ons lag oor hoe sy die kleinkinders deur die bad gejaag het met inspeksie van bad en hakskene daarna.
Rina sing, “Hoor jy my stem oor die see”. Sy neurie saam met Mario Lanza, “I’ll walk with God” terwyl ek haar toonnaels knip en die voete invryf met room. Sy is ‘n bietjie moeg na die oggend se rolstoelwandeling. Sy word gou moeg. Sus vertel van toe ma haar skoolbus toe en terug ge-abba het, nadat sy ligamente in beide bene geskeur het in die motorongeluk.
Die laaste aand na aandete sit ons op haar bed. Ek lees haar gunsteling Psalm voor. Sy luister aandagtig. “Dis baie mooi,” sê sy. Ek neem haar hande en ons bid. Onverwags bid sy helder en duidelik. “Dankie Here vir hierdie dogter van my. Streel haar vir my. Laat haar veilig huistoe gaan.” Dan stammel sy weer onverstaanbaar….
“Vader ken ons harte. Ons hoef niks te sê nie. Hy weet,” sê ek. Sy knik instemmend.
Ek ry huistoe, drink die silwer melkbekertjie met een teug leeg en vee die trane met die agterkant van my hand weg.
Haar kinderlike blydskap en dankbaarheid vir haar twee dogters en alles wat mooi is, grafeer ek op die tafel van my hart.
Sy het lewe ontvang en gegee, ons geleer om die pad te stap, ons opgehelp toe ons geval het, aangemoedig en rigting aangedui – in ons geglo. Vir ewig en altyd sal sy my ma wees soos wat Maria vir altyd en altyd Jesus se ma is.
Terug in Anderman-se-land is die lyn nie duidelik nie. Sy brabbel onverstaanbaar. Dis stadige, halwe sinne. Dan giggel-lag sy bly. Sy verlang en vra wanneer kom ek kuier. Waar bly ek nou weer? Dan moet ek net weer sê, is dit nou die oudste of die jongste wat praat?
(Hierdie artikel het verskyn in die Lente 2018 uitgawe van SAVF se tydskrif, Ek en my Kind.)