Mari Roos
17 September 2012
Mari – tipies (R)roos.
Sterk, kon enige plek groei en blom.
Het die mooiste blomme en geur gegee; die huis versier.
Maar daar was ook dorings want met Mari het jy nie gemors. Sy het geweet wat sy wil en gedoen wat sy wil – sterk, oortuigend en doelgerig. Sy kon mens goed organiseer – op die ou end was dit vir jou eie beswil want by haar het dit nooit oor haarself gegaan nie.
Sy het gewéét wie sy was want sy het haar Vader geken. Vanuit Sy teenwoordigheid het sy gelewe en almal om haar saamgeneem.
Mari het in ons lewens ingestap en gesê: “Hier’s ek en hier help ek.” Sy het die werk van twee of selfs drie gedoen. Kreatief het sy met alles omgegaan – gedek, kos gemaak, geskenkies aanmekaar gesit, tuin gemaak, huis versier, fotoboeke saamgestel om die mooi van menswees te vier.
Fluit-fluit het sy haar werk gedoen, gelag oor die dubbelsinnige padtekens in België, ‘n ding by die naam genoem soos speelgoedbeertjies met sand in die ‘holle’ om hulle te maak sit, gehuil wanneer Kirsty saam met haar fluister sodat pappa en mamma kan slaap. Sy het seker gestaan wanneer sy die Vader se liefde en woorde oorgedra het, want sy het Hom geken. Met warmte en aanvaarding het sy bemoedig en aangemoedig, die rigting aangedui. Ons landing in België het sy saggemaak met al die oproepe, kuiers, bemoediging, praktiese geskenke, gebede…
Sy was altyd so ‘n paar treë vooruit … Deur die dun glasdeur is sy nou. Ek sien al hoe sy van die Vader se skoot af die engeltjies ‘regorder’ – dié wat die sterre moet uithang, dié wat die maan moet ‘polish’ en dié wat die donderweer moet pomp – en al singende doen hulle dit want sy’t hulle geleer om te sing terwyl hulle doen, want dis mos als vir Pappa.
Sy het gelééf met hart en siel en baie met haar saamgeneem.
Nou vier ons háár mooi. En mooi was dit. Tot die einde toe.
Soos Margaret Lee gesê het:
‘Cancer is so limited. It cannot cripple love, shatter hope, corrode faith, eat away peace, destroy confidence, kill friendship, shut out memories, silence courage, quench the Spirit or lessen the power of Jesus.’