Fotoschrijven
‘n Paar jaar gelede het Brenda van Es, ‘n Nederlandse skryfster ‘n uitdaging gerig op haar blog, ‘Fotoschrijven’. Ek het vir ’n paar keer meegedoen. Heerlijk! Elke week was daar ’n nuwe temawoord. Ons moes ’n foto soek uit ons eie ‘argiewe’ en hoe ouer hoe beter. In net 50 woorde moes ons die storie vertel.
Hier volg my 5 stories. Lekker lees!
Kleding
1985. Na werk stap ek die kamer binne. Ywerige hande ruk af en uit. Ek keer…hulle giggel. Laken, pienk serp en blink borsspeld, om die laken bo te hou, voltooi die uitrusting. Dan volg die fees. Ons lag en kuier want my troue volg oor ‘n maand. En dan begin die egte lakenvou! #fotoschrijven
Smaak
Op ver paaie in Suid-Afrika (vroeë sewentigs) tydens ons jaarlikse vakansie. Of onder ’n boom stop of sommer langs die pad om padkos te geniet – heerlike toebroodjies, hoenderdytjies en tuisgebakte koekies. Die suur gesiggies? Ons mag nooit in die motor geëet het nie.#fotoschrijven
Buite
“Smile!” sê die entoesiastiese fotograaf.
“Lekker vakansie onder die sambreel”, brom sus onderlangs.
“Ja, almal mag swem behalwe ons!” mor ek saam.
“Dis die warmste tyd van die dag. Julle gaan verbrand en dan sing julle weer vanaand”, sê pa beslis.
Nog ’n vrolike vakansiefoto.#fotoschrijven
Oud
“Appel?”
“Nee dankie, broekies, bra’s en onderokke is lekkerder!” sê Susan die mak gemsbok. Ons het in tente gebly in die noorde van Namibië in die vroeë tagtigs. Klere is met die hand gewas en aan die tenttoue opgehang totdat Susan begin smul het.#fotoschrijven
Speel
Altyd apiekoors – hang, swaai en klouter terwyl ‘Miss Sus’, Ouma se goud behang, rokswaai voor elke spieël en klakken op Mevrou-skoene. Toe val ‘apie’ en word tjankbalie. Apie se arm het geknak. Magoed was gou by
met troosverband en toe saam afklakken na die spreekkamer.#fotoschrijven