Erica du Toit
10 September 2012
Die nuus van die siekte was ‘n skok. Die kop kon nie woorde vind nie. Ek het in die tuin tussen die pienk rose gaan staan.
Sy was só: pienk, mooi. Sy het op ons tafel gestaan, baie keer. Die geur van ons Skepper. Sy het op baie se tafels gestaan en lewens gevul met haar Skepper.
Haar hart vir Hom het geklop vir mense. Ons onthou nog die Indiërkinders wat sy en Piet in hul huis geneem het, versorg het soos eie kinders. Haar kinders en kleinkinders was ‘n vreugde. Al is van hulle ver, was hulle daar. Dis die ekstra horlosie op haar lessenaar met ‘n ander tyd op – Amerika se tyd, want hulle is daar. Sy het altyd uitgesien na die kuiers daar. (Ons onthou nog die lekker kuier en koffie hier in Brussel, ‘n stop oppad na Amerika.)
Dis vreemd – altyd Piet-en-Erica. Nou is dit net Piet…
Later in Psalm 71 het ek haar gesien:
By Hom het sy haar ‘gastekamer’ ingerig waar sy gedurig vertoef het. Want sy het Hom verwag, altyd. Wanneer Hy gekom het, het sy uitgekom met nog ‘n ‘ekstra been’, haar hulp. Haar mond was vol. Sy het vertel en oorgeloop. Sy kon boeke skryf oor Hom – Sy goedheid, genade, liefde, wonders, lesse.
Sy hét ook boekies geskryf – nuus vanuit die ‘gastekamer’ vir die jonger geslag.
Só het sy gesaai – positief, met ‘n oog op die oes en ander met haar saamgeneem. Sy het aangemoedig, bemoedig, gebid vir genesing, geleer – geleef.
‘A thread of grace’, haar één lewe wat aan Hom behoort het. Die pienk gaan verbleik en die blare gaan afval. Wat bly is die wete dat daar wéér pienk rose sal wees.
Haar stukkie hemel het sy met ons gedeel sodat ons kan weet hoe mooi ons Vader is.