Cornelius Petrus van Rooyen – Oom Pietie
† Woensdag, 14 November 2012
Ek is hartseer.
Oom Pietie is skielik oorlede.
Ek wou nog bel om te hoor hoe dit gaan. Al kon hy nie meer hoor of sien nie, wou ek dat iemand hom ‘n drukkie gee met sy verjaarsdag. Maar die telefoon wou nie antwoord nie en nou is hy weg en ek is hartseer. Só baie vrae: Was hy siek? Het hy pyn gehad? Was hy alleen? Was iemand daar toe hy die asem aan hierdie lewe teruggegee het?
Maar vanoggend tussen al die trane het die Vader gepraat…
Oom Pietie is deel van grootword-onthou. Kort, stewige, donkerkop mannetjie met die groot bril, later jare. Hy kon vinnig, doelgerig stap en almal irriteer wanneer hy met sy vingers of sy skoene getrommel het. Sy broeksakke het altyd swaar gedra aan die bos sleutels – sleutels van sy blikkies en trommels onder die bed en onder in sy klerekas. Hy het alles van nut opgetel waar hy ookal was – van geroeste skroefies, skuifknippies tot penne wat nog kon skryf. Alles is netjies gesorteer en gebêre in blikkies en sakkies en trommeltjies. Sy skatte!
“Gaan vra vir oom Piet” het Pa altyd gesê wanneer ons iets vir skool nodig gehad het of sommer net. Om die skatte weg te gee was vir hom ‘n genoeglike ritueel. Sy blydskap: geheimsinnig, stil, diep – hy het sin gehad.
Veel reaksie op ons versoeke was daar nie.
Het hy dan nou gehoor wat ons nodig het?
Maar wanneer die knopvinger om die deur gewink het, het ons geweet! Hy het!
Met die een been onder hom ingevou het hy die blikkies en trommels voor hom op die vloer uitgestal en té stadig oopgesluit. Al die verskillende kleure ‘haarrekkertjies’ wat nog gebruik kon word moes bewonder word; ‘n hele sakkie skuifknippies; ‘n dosie ou posseëls en dergelike dinge. Eindelik het ons dan gekom by wat ons nodig gehad het. Onverklaarbaar het dit skielik nie meer vir hom nut gehad nie en wou hy dit sommer weggooi. Ons het vreeslik gekeer, “Nee, nee, ons wil dit hê. Ons kan dit gebruik!” En dan waarvoor ons gewag het, “As julle dit nie vat nie, gooi ek dit sommer weg!” Weggooi-ding het nuwe lewe gekry. Hy het geglimlag en ons ook. Dan is alles weer sorgvuldig weggepak en toegesluit tot die volgende persoon se nood.
Alles moes ook ‘gefieks’ word – of dit nou ‘n knoop is wat weer aangewerk moes word of ‘n gat in die kous wat reggemaak moes word. As daar nie garing was nie, is wol gebruik. Dis gedoen. ‘Gesoldeer’ soos Ma dit genoem het. Gat sal dit nie wéér waag nie!
Oom Pietie het gestap waar ander gelei het – hy moes woon waar húlle gesê het, eet wat húlle voorgesit het, aantrek wat Ouma reggesit het en kuier wanneer die familie hom gaan haal het.
Dit was altyd Oupa, Ouma en oom Piet, later Ouma en oom Piet. Toe is hy Sanel toe en het net van tyd tot tyd kom kuier. Sanel het sy huis en familie geword.
Hy kon lekker eet en hard lag. Hy was altyd bly om ons te sien: ‘n wye glimlag het sy gesig opgehelder gevolg deur ‘n harde soen en ‘n stywe druk. “Hallo my ding” het gesê hy’s bly.
Hy het tolletjie gebrei en kleurvolle matjies gemaak. Later jare het hy met elke stukkie oorskiet wol lappies gehekel. In Pa en Ma se huis het elke kaal tafeltjie een gekry – lekker bont maar met groot toewyding en liefde gemaak.
Ek onthou ook die jare met die vernederende aanvalle wat sy gelaat en lyf skrikwekkend verwring het, die kere wat die medikasie te swaar was, hy sleeptong gepraat het en baie wou slaap.
Die figuurtjie het kleiner geword met die jare en die hare grys. Oom Pietie was die Petrus, die rots in die familie waarop die Vader se teenwoordigheid gebou is. Hy was ‘n rots van liefde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, dankaarheid, tevredenheid, vrygewigheid, blydskap. Dis sy nalatenskap – nie kinders of kleinkinders, geld of huise of aardse rykdom nie. Maar ‘n praktiese lééf van wie die Vader is.
Ek sal hom mis, want ons het ook nou ‘n ‘swakker een’ in die gesin. Nes oom Pietie gebruik Hy háár, die swakkere, om ons, die sterkes, te leer van liefde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, dankbaarheid, tevredenheid, vrygewigheid en blydskap. Ek staan beskaamd voor die suiwer krag van die swakkeres.
Oom Pietie, ons geskenk van die Vader.
Hy het my lewe verryk.