Celebrate
Dis somer en dis vakansie – Europa se lang skoolvakansie.
Ons sien uit na tyd alleen – lang aande van lekker lees, wandelpaaie, fietspaaie,bospaaie.
Die teerpad neem ons na die noorde van Nederland, Groningen. Nommer 646 is vir ons gereserveer.
Ons trek in. Kos vir ‘n week. Beddegoed. Ekstra handdoeke vir swem. Dolla se stootkar vir die stap. Lekker groot tafel.
“Welkom! Super leuk dat je er bent!” lees die boekie waarin alles verduidelik word. Dis ‘Celebrate’. Die 10de somervakansiekonferensie van die Katolieke Charismatiese Vernuwing, Nederland. ’n Week van lofprysing, sprekers, werkswinkels, sport, konserte, aktiwiteite en ontspanning vir jonk en oud. En ons stap hierdie week die lewenspad saam met die groep met die neon pienk armbandjies – die jong volwassenes, op soek na “The Real Deal”.
Daar is baie dinge in ons samelewing wat skitter, maar nie als wat blink is die moeite werd nie. Puur goud, die tema, word deurgetrek na al die groepe – die kinders se tema is kostbaar, die tieners kyk na die medaljekas, running the race is een ding, maar wen is iets anders.
Seweuur soggens word die park wakker en teen negeuur is almal oppad – rolskaatse, kinders, stootkarretjies, fietse, die grys togas swaai om die voete van die broers van die Sint John’s Orde, gestremdes, skaatsplankmanne met gelhare, volwassenes met sakke, ander met musiekinstrumente, vriendelike jong nonnetjies met blou hoofdoeke. Die kleurbandjie aan die arm sȇ tot watter groep elkeen behoort. Almal groet. Dolla is in haar element met al die vriendelike mense!
Met die amptelike opening word elke groep en hul werkers “uitgeswaai” onder groot toejuiging van die ander – net wat ‘n mens nodig het vir die lewenspad. Sommige, hoor ons toe, is maar net daar op aanbeveling van die ouers. Afstand word gehou en mure is stewig. Mooi maskers op. Die eerste aand is daar ’n wandeling met ’n sakkie sand wat saamgedra moet word. By die meer word dit uitgegooi en daarmee saam die één las wat elkeen daar wil begrawe om ongehinderd deur die week te kan stap.
Daagliks word die oȅ na die Vader gedraai. Elkeen se lewe word gestuur deur sy beeld van God en hoe hy/sy dink God na hom kyk. Stilte. Sommige kyk maar liewer af. Ons littekens vertel ’n verhaal – dié op die liggaam en dié op die siel, veral. Trane lek-lek uit want die beker is al vol van jare se indruk en onderdruk.
Hulle word uitgenooi om te fokus en die uitgestrekte hand te neem… Groots, die Drie-in-Een! Hύlle saamwees en dat ons vanuit hierdie verhouding tot lewe gekom het – altyd ingesluit, nog nooit uitgesluit nie, al voel dit meestal so. Ons probeer so hard om te verdien wat ons alreeds besit. En dan die groot skaamte by almal – van nie-genoeg wees nie. En altyd die uitnodiging: die Waarheid is anders as die realiteit, kom stap saam…
Die groep klim toue by ‘n klimpark. Lag saam. Drink koffie. ’n Paar staan nog eenkant en toekyk.Toe kom Woensdagmiddag. Die manne en die vroue appart:
Op ‘n grasvlakte word toue vir die manne se groepsspel gespan. Elke man staan sy man teen die ander. Sommige val en sommige staan. Dan word groepe teen mekaar gemaak en die (saam)staan kom makliker. ‘n Vuurtjie word aangesteek, gepraat oor die groot skaamtes en ’n vleisie gebraai…saam. Die meisies praat gemaklik oor nie-genoeg-wees-nie en hulle groot skaamtes.Dan volg tee en sjokolade terwyl die hande met bont krale, seephartjies en lint werk. Daar word aaneen gekuier. Waar monsters in die donkertes geleef het, het Lig gekom. Hulle is toe nou nie meer so groot nie, die monsters.
By die tienerkamp word die oordadige energie tot laat saans gekanaliseer. Ons gaan slaap met juig wat soos golwe teen die nag slaan.
Elke dag vier ons saam die liggaam en bloed van ons Redder.
Vader Johan praat van die Pottebakker wat hierdie week die klei met water, sweet en sy eie speeksel gevorm het. En soos wat die klei in beweging kom op die wiel, kan dit gevorm word. Die hele week lank is die klei gedruk en gegooi; besing; bebid; uitgenooi om die Pottebakker toe te laat. Eers teen Donderdag het die klei beweeg en met die lofprysing het die dans op die wiel begin.
Vryheid is geproe, ‘n treetjie gegee… Almal sing, klap, dans – in en uit, om en om! Ander kom kyk want hulle het gehoor…
Vrydag kom gou.
Ons vee die huisie uit en pak op. Buurman, ’n pa van Ruwanda, kom gee hand en sȇ dankie – dankie vir die saamstap met sy drie jong volwassenes hierdie week. Ons staan nederig en aangedaan. Jong Ruben in die elektriese rolstoel, kop skeef en oopmond lag, ry nader. Die spastiese hand beduie hy wil vir Dolla bid. Ek moet mooi luister. Hy bid vir haar om altyd die Here se teenwoordigheid te voel. Pyn en vreugde meng. My trane loop. Dan ‘n lawwe groepsfoto. Ons moet groet tot volgende jaar.
“Celebrate – puur goud. Een zomerfeest met elkaar en met God.”
(Hierdie artikel het in die Herfs 2015 (Jaargang 37 nr 1) uitgawe van Ek en My Kind (‘n publikasie van SAVF FAMNET, Suid-Afrika) verskyn.)