Braambos-Annie
Elke oggend en aand steek ek my voete in haar blou huisskoene. Sy’t net een keer met hulle die huis skoongemaak en toe besef dis eintlik te klein vir haar boerevoete wat plat op die aarde staan. Toe erf ek dit. Wanneer my voete so lekker warm inglip, dink ek aan haar wat vir drie en ‘n bietjie jaar my hart warm gemaak het.
Een oggend het sy gebel om kennis te maak, klipgooi van ons af, hier in anderman se land kom woon, want manlief het Suid-Afrika kom verteenwoordig. Ek het ‘n gepoleerde mevrou met swarerige grimering en juwele verwag. Maar Annie was soos die naam gesê het, gewoon Annie – elke week haar groot huis gepoets, blommetjies geplant in bakke, karringmelkbeskuit in die blik gehad en lekker kos gemaak.
Annie weet van dien en bedien en dit alles, met groot liefde. Voor die kinders of familie op besoek gekom het, is die lysies gemaak en voorbereidings lank vooraf getref. Die huis is goed gepoets (ek en vriendin Ellen het nie gedink dit kan énigsins skoner nie!) en klaar-voorbereide geregte is gevries vir die uithaal, warm maak en net ‘n slaaitjie of ‘n markbroodjie daarby sodat almal lekker rustig kon kuier.
En sy kon dokter met wat in die huis was, veral as manlief begin kug het. En dan het ons ook sommer ‘n sakkie vrugte huistoe gekry vir die ‘natuurlike’ vitamines.
Versigtig, te versigtig vir baie dinge, het sy self vertel, sodat die familie haar speels Bang-Annie gedoop het of Gif-Annie want nie net kon sy siektes dokter nie, maar sy het oorlog gemaak teen miere, slakke en goggas wat verniel. Nou het sy besluit dis beter om ‘groen’ te dokter en het weggemaak met al die giwwe. Haar plante het ook altyd mooi gegroei want hulle is met liefde versorg.
‘n Harde werker is sy, soos boeremense grootgemaak is. Sy het gehelp kos maak wanneer manlief sy werksfunksies gehad het en dan het ons ‘n bakkie gekry om te proe of dit darem goed is om voor te sit. Sy het weekliks gehelp by ‘n restaurant vir bejaardes.
Haar eie familie het sy nie afgeskeep nie. Handgeskrewe briefies het maandeliks na skoonma toe vertrek want oumense hou daarvan om ‘n ou briefie in die pos te kry, het sy altyd gesê. So het ek ook baie keer ‘n wit koevertjie met my naam in haar netjiese handskrif daarop, in die sakkie met die vars vitamines gekry. (Sy was vroeër skooljuffrou.) ‘Sommer net ‘n ou ietsie om ‘n gaatjie toe te stop’, of ”n ietsie omdat óns so geseën is’. En meestal daarmee saam, so ‘n gedagtetjie wat sy in haar tyd met haar Vader gekry het. ‘Wou dit net deel want dit het vir my baie beteken’ het sy geskryf. En so het Annie met alles na haar Vader toe gehardloop – haar krag en haar sterkte!
Elke Woensdagoggend was die afspraak en het ek en Hollandse vriendin Ellen, op haar oranje regeringsbanke gesit met koffie en geklopte melk, ‘n mooi servetjie (sy hou van mooi servette) en ‘n eetdingetjie wat sy op die mark gekoop het, netjies gehalveer want die ongesonde kalorieë gaan lê te maklik op die heupe. Dan het ons gesels oor familie, werk, manne, kjenners – gelag en gehuil. Hemel het sy aarde toe gebring wanneer negatiewe gedagtes wou floreer – probeer verstaan, vrede, vergifnis was haar taal.
Baie keer het sy vertroostend gesê, “Ag nee toemaar, ons sal net vir die Here vra.” En dan het sy gebid. Sy ken Hom, was elke dag in Sy woonkamer en Sy deur is altyd vir haar oop. Sy Woord is háár woorde. En die braambos het gebrand, want Hy was daar. Nou nog kry ek boodskappies oor ver drade wanneer sy oor óns gepraat het met die Vader.
Ons Dolla het ook die pad na tannie Annie se huis geken. Wanneer die voordeur oopgemaak is, het tannie Annie geduldig geluister na die omslagtige huisverhale en al die ‘seerg-klagtes’. Dolla het dan vorentoe geleun en haar voorkop gehou vir ‘n dagsoen. Op die oranje bank het tannie Annie vir haar ‘n lekker warm kombers oor die bene gegooi en dan het sy kiertsregop beduie na haar koekie in ‘n bakkie.
Ons laaste kuier was oudergewoonte op die oranje banke met bokse netjies opgestapel in die hoek en solank lakens voor die blink gewasde vensters. Saam met die koffie en soetigheidjie was geblomde geel pakkies met goedjies soos ‘n bakkie (onthou ons is maar kleipotte), ‘n klippie (onthou Hy staan vas) en ‘n armbandjie (Hy versier ons met sierade). Sy woord, háár woorde – kos vir die gees. So gee sy haar kosbaarhede weg.
Nou loop haar blou huisskoene warm, blom haar voordeurmalva pienk voor my venster en kuier ons oor die foon en die rekenaar.
“… Jammer oor die stiltes, ek’s nog hier…
Dit gaan goed. Die Jakarandas is pers mooi, die lug is helder, die son bak warm, en gee goeie vit D.
Ek is so dankbaar saam met julle… hou ons op ons kniee en baie naby aan die Here.
Ons is besig met hier en daar renovasies aan die huis. Eks moeg. Ek haal nie eers die weervoorspelling tydens die aand nuus nie. Dit sal weer beter gaan.
… Ek en (manlief) bid en… Ek het net nou die dag presies die versies gekry van die beeld wat ek ‘n tydjie gelede gehad het, en ek vertrou net die Here daarvoor. Maar dis nie aldag maklik nie, mens voel so die Here moet asb. nou dadelik antwoord, maar Sy tyd is nie ons tyd nie…
…Ek bid vir julle.
Ek mis ou België. Hoe snaaks is dit nie, as jy daar is, wil jou hart hier wees, en nou is ek hier, wil party dae net weghardloop, en verlang na ‘n rustiger kommervrye lewe.
Ek moet die skure gaan aanvul.
Wens so ek kan vir jou ‘n outydse kaartjie in die pos stuur, maar die Poskantoor staak al bykans vier maande!
Groete
Jou vriendin”
Nog steeds, Braambos-Annie, my vriendin!