Basie du Plessis
1-10-1963 – † 29-01-2014
En so kuier ons die afgelope week nog by Basie…
Van ou Maroepan wat hom Oubaas genoem het, wat Basie geword het.
Van die drie boeties wat snags soos een man kon bulder wanneer die lig in die gang per ongeluk uitgegaan het en van die vinnige humeur. By pakslae het hy altyd gedreig om goed te vat en te loop en van Philip (toe nog klein Flippie) wat so kon smeek dat hy tog nie moet wegloop nie. Nog onlangs was jammer-sê blomme uit die tuin pluk vir Ma of vir Philip bel om rose te sny en vir Ma te bring.
En ai, die Opel-sage! Hy en Pa kon lekker saamwerk aan die Opel wat alewig ‘n skeet het, Ma se wasbak met hulle oliehande besmeer en saamstem dat Opel die beste kar ooit is. En net híér het die vonke gespat – daar was níé saamstem oor die Opel se eienskappe nie!
En van eie kop volg. Vir wat moet mens dan nou skool klaarmaak (en hy was so goed in wiskunde) as jy weet enjindokter is jou werk? Nog onlangs het hy tougetrek met Marnitz en Meraai oor die rokery! Ons weet wie’t gewen!
Van olievingers en groenvingers. Groente uit sy tuin was rykmanskos. (Hy het graag gegee – groente en van alles en nog wat.) Blomme het gegroei waar hy hulle geplant het. In sy mooi tuine het ons sy kreatiwiteit gesien. In die natuur of by die stil van die viswater kon hy rustig raak.
Ek het hom leer ken as Blaps. (Blykbaar in die Laerskool in die swembad ‘ingeblaps’ in plaas van ingeduik.)
Ons lag saam vir die onthou en huil saam. Na maande van swaarkry is daar nou net ‘n groot stilte waar nie eers sy oë of hande praat nie. Daar is nie meer ‘n ou koffietjie en koekie nie, nie meer kos in die pypie nie. Dit was Ma se voorreg om hom te versorg. Sy was bly om dit te doen. “‘n Spesiale kind,” sê Ma en ons almal knik.
Ons is dankbaar vir die genadetyd. Sy woorde het minder geword, maar omring deur sy mense, kon hy sy hart oopmaak en Vrede ‘n plek gee. Hy het met ‘n glimlag (weg)geloop en ons glimlag, want ons weet waar hy is.