Mariet (Naude) Ray
5 Junie 2012
Selfversekerd het die mooi donkerkop vrou in ons lewens ingestap in Windhoek. Rokke bokant die knie het die bruin bene met die mooi kuite gewys. Sy het vinnig gepraat en kon gemaklik gesels oor alles. Afrikaans was sy. Maar was net so gemaklik in Engels, Frans en kon ‘n lekker gesprek in Duits voer met die Duitsers in die omgewing. Want Mariet was lugwaardin en het tuis gevoel in ‘n gepoleerde omgewing met kaas en wyn maar net so gemaklik in ‘n stofstraat in Ovamboland. Bad in ‘n rivier en buite slaap onder die Namibiese sterrehemel was gemaklik, asof luuks. Sy’t ons geleer om die lastige klein vliegies in Khorixas uit jou oë, neus en mond te hou met ‘n doringboomtakkie – ons het almal geloop met klein groen boomwaaiertjies.
Sy het soos ons almal maar haar deel van seerkry gehad, maar sy was gewillig om ‘n pad met die Here te loop. Sy het geweet wat sy wil hê en amper hardkoppig erns gemaak met haar verhouding met die Here. Gebed was haar passie en sy het sommer maklik dae lank gevas om die Here te soek oor ‘n saak wat na aan die hart was.
Mariet se liefde vir die Here het uitgevloei in haar liefde vir mense. Sy was ‘n goeie en getroue vriendin vir baie.
Kos kon sy maak. Onthou nog hoe sy met ‘n knipmes en bottel suurlemoensap in die hand oor die rotse geklouter het op soek na mossels. Net so lekker kon sy lewer op die kole braai in Omaruru op die plaas. Sy het vir my ‘n verjaarsdagkoek gebak wat ons nog tussen die bokke en die brommers geëet het, in die hitte van Namibië. Die jeep het vasgesit in die dik sand oppad Brandberg toe. Toe hou ons maar verjaarsdag onder ‘n boom by die trop boerbokke.
Ons het Mariet vir lank nie gesien nie, maar geweet haar liefde vir die Vader was haar sterkte en vreugde. E-mails het altyd laat weet waar sy was en wat sy gedoen het. Ons het saamgebid in die tye wat sy spanne met haar saamgeneem het. Ons het amper ontmoet met haar besoek aan Frankryk, maar ons moes Suid-Afrika toe. Ons het mekaar gemis.
Met haar siekte het ons gevra vir volkome genesing – soos met Sy vriend Lazerus. Maar ons weet ook dat met haar dood, Sy eer groot sal wees en so sou Mariet dit wou hê.
Ons mis haar.