Susan Mentz
† 6 April 2012
Hier by ons is dit ‘n deurmekaar dag van wind, son wat maar nie sy skyn kan kry nie, reën en stofhael. Ons voel ook so vandag. Ons harte is seer oor Susan.
Ons het so gehoop vir nog jare van vriendskap, kuier en mekaar geniet.
Ek het vandag ‘n bos pienk rose gekoop. Vir ‘n verjaarsdagvriendin. Ek gaan dit hou. Dis Susan. Ons het net mooi herinneringe van haar en sal dit altyd koester.
Susan het soos die wind-van-die-see-af oor ons lewens kom waai. Die soutigheid het ons laat dors na die méér waarvan sy geweet het. Die wind het die fyn seesand teen ons aangewaai, geplak. Dit sit aan die lyf vas en in die klere. Die Vader wat sy geken het, kan ons nie van ons lyf afstof nie. Wil ook nie. Dis ‘n Vader vol liefde en goedheid met sandduine vol mooi gedagtes oor ons.
Sy het nie gepas in die woestyn van Namibië nie. Maar tog ook. Sy het kleur gebring in enige vaalte soos Namakwaland se blomme wat te vroeg gekom het na die reëns. Met haar giggellag het sy hoop en mooiheid kom saai waar sy was. Altyd kreatief besig om ander te seën met haar gawes. Susan kon bak – rye warm appeltert. Susan kon klere ontwerp en maak. Susan kon fluit speel en sing. Susan kon kinders leer. Susan was ‘n juffrou. Susan kon ‘n winsgewende besigheid maak uit sommer niks. Susan het haar hart en huis oopgemaak. Susan kon ver draf en fiets trap. Susan het ‘n oog vir ‘n goeie kopie gehad. (Het net noudie dag ‘n paar wit katoensokkies weggegooi wat jare gehou het. Op haar aandrang het ek dit gekoop.) Susan was fyn en vroulik – die vinnige klik van hoë hakkies – Susan is oppad.
Haar Vader ken haar. Sy ken haar Vader. Haar vertroue was vas. Liefde en hoop het sy meegedeel – mense saamgeneem.
En nou neem ons haar saam in ons harte, dankbaar vir haar stukkie hemel wat sy met ons gedeel het. Dit het ons lewens mooi gemaak.
Ek sou dit alles graag vir haar wou sê, maar nou moet dit wag tot dan.
Sy het iets baie moois in die dogters gesaai wat vrug sal dra en geur gee aan hulle lewens.